Kroonstad sê dankie vir elkeen se stem

Kroonstad het in die kykNet Kwêla Dorp van die jaar-kompetisie met die louere weggestap. Die vreugdevure brand hoog in die Vrystaat, nadat Kroonstad gisteraand (31/07) met die gesogte titel gekroon is.


Kroonstad het amptelik in die kykNet Kwêla Dorp van die jaar-kompetisie met die louere weggestap. Die vreugdevure brand hoog in die Vrystaat, nadat Kroonstad gisteraand (31/07) met die gesogte titel gekroon is. 

“ Alle eer aan ons Hemelse Vader, vir sy leiding deur die hele proses. ‘n Visie is in deur God aan my geopenbaar en ons het Sy plan gevolg.  Ons is kinderlik opgewonde en diep dankbaar vir elke liewe persoon wat ‘n bydrae tot ons sukses gemaak het. Natuurlik ook vir elke stem en al die suksesvolle bemarkingsveldtogte” sê André van Pletzen wat aan stuur staan van die Ignite en Revive organisasie en die dryfveer agter die herlewing in Kroonstad is.

Die algehele wenner in die gesogte kompetisies is deur SMS-stemme bepaal en Kroonstad het behoorlik skoonskip in die stemproses gemaak. Kroonstad, Graaff-Reinet en Keetmanshoop was in die topdrie wat om die titel meegeding het.  Pryse vir die algehele wenner sluit in ‘n spoggerige KIA Dorp van die Jaar-makietie en ‘n miljoenrand se reklamelugtyd van kykNET.

Die dorp skud nou sy vere reg vir die groot KIA Dorp van die Jaar- makietie waartydens die eerste jaarlikse Kroonstad TRIO fees, ook sal plaasvind.

“Ons suksesverhale bring verseker ‘n boodskap van hoop en verskeie dorpe regoor Suid-Afrika heen het reeds vir Ignite en Revive gekontak om leiding te vra.” 

Kroonstad het ‘n gesamentlike einddoel en dit is om hul dorp nie net funksioneel te maak nie, maar  ‘n lushof vir die oog en om beleggers te lok vir ‘n sterker ekonomie.

Pieter van Rensburg van die Ignite en Revive organisasie,  is as afgevaardigde vir Kroonstad gestuur om die gesogte prys in ontvangs te neem tydens die Kwêla-uitsending. Besoek gerus die Ignite & Revive se Facebookblad of hulle webtuiste op www.igniteandrevive.co.za om meer van hulle suksesverhale te lees.

You need to be Logged In to leave a comment.