Die Kroonstad-rugbyklub is vanjaar onoorwonne in die Sandveld-rugbyliga-uitdaging. Die span het reeds vier van sy vyf wedstyde gewen en een gelykop gespeel. In sy wedstyd op 18 April teen die Bultfontein-rugbyklub het die span die vloer gevee met die besoekers, met ’n oorwinning van 34 – 0 op die telbord. Foto: Verskaf


Die Kroonstad-rugbyklub is kookwater in vanjaar se Sandveld-rugbyliga-uitdaging. Die span het vier van hul vyf wedstryde wat reeds gespeel is gewen en in een gelykop gespeel.

Op Donderdag 18 April het die Kroonstadters teen Bultfontein te staan gekom in ’n kragmeting by die North High Skool se rugbyvelde in Kroonstad.

Die tuisspan het van die begin af die wedstyd oorheers en die besoekers behoorlik laat stof eet. Hulle wen die wedstryd loshande met 34 – 0 op die telbord.

Puntemakers van die wedstryd was Francois Stemmet met 2 drieë, Wian Viljoen 2 drieë, Tshepo Chabeli ’n drie, Wimpie Botha ’n drie en Louis Steyn wat twee van die ses skoppe deur die pale gesit het.

Francois Stemmet en Louis Steyn is as speler van die wedstryd aangewys. Die tuisspan is goed ondersteun met ’n amper vol paviljoen met ’n lekker gees wat geheers het.

Ondersteuners het langs die veld uitgekamp, gebraai en die vreugdesvure het hoog gebrand toe die Kroonstadters wen.

Die Kroonstad-rugbyklub het gelykop teen Hoopstad met ’n telling van drie elk gespeel.

Hulle behaal ’n naelskraap oorwinning teen Bothaville met ’n telling van 27 – 26, draf Viljoenskroon kaf met ’n oorwinning van 24 – 15 op die telbord, en wen Theunissen met ’n telling van 19 – 16.

Die Kroonstad-rugbyklub se bestuurspan is Merwe Snyman (voorsitter), Carel Wessels (ondervoorsitter), TP Kleynhans (spanbestuurder), Gerhard Klopper (hoofafrigter) en Louis Steyn (kaptein).

Die klub oefen elke Maandag en Dinsdag om 18:00 by die North High-rugbyveld. Belangstellendes is welkom.

Op Donderdag 25 April sal die Kroonstadters teen die span van Parys te staan kom en die wenners sal deurdring na die halfeindstryd.

Die eindstryd van die Sandveld-liga sal op Donderdag 9 Mei bepaal word.


Madli Grobbelaar

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article