‘n Bekende inwoner en musikant van Kroonstad is as finalis in die FAK se Skryf’it-kompetisie vir sy liedjie “Ons gaan braai” aangewys.
Die 70-jarige Dawie Fourie van Kroonstad met sy liedjie “Ons gaan braai” was oorstelp van vreugde toe hy die nuus ontvang dat hy as finalis in die kompetisie aangewys is. Die FAK saam met ander belanghebbendes het die kompetisie van stapel gestuur om die 100ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike landstaal vanjaar te vier. Die liedjieskryfkompetisie het mense aangemoedig om die volgende groot Afrikaanse treffer te skryf.
Fourie het sy kreatiwiteit vrye teuels gegee en met sy unieke braai-liedjie vorendag gekom. ‘n Heelike saamkuier-liedjie wat meer handel oor wat gebraai gaan word as die braai self.

Sy liefde vir musiek is so deel van hom soos om asem te haal en die lys van musiekinstrumente wat hy nie bespeel nie, is korter as die wat hy kan bespeel. Deesdae geniet hy dit egter om die kitaar en klawerbord te speel. Fourie doen musiekverwerkings, skryf en sing sy eie liedjies.
Hy was ook aan die stuur van die Talkabout-orkes vir baie jare. Dit was egter sy beste vriend Wynand du Plessis, saam met wie hy liedjies skryf en opneem, wat hom drie weke gelede oortuig het, om vir die kompetisie in te skryf. Fourie het “Ons gaan braai” een aand by kerslig tydens beurtkrag in Mookgopong skryf.
Fourie is afgetree, maar rig nog kerkkore en die Hoërskool Trio se koor af. Voorheen was hy betrokke by die departement van korrektiewe dienste (DKD) se orkes en later was hy die direkteur van musiek van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) in Kroonstad. Hy is met Charmaine Fourie, ‘n kunsonderwyser getroud.
Gaan na die Skryf’it-kompetisie aanlyn of stuur A02 per SMS na 45730. Elkeen kan net eenkeer aanlyn en per SMS stem. Stemme is oop tot 26 Junie om 21:00 stem.
You must be logged in to post a comment.