Kroonstad skud sy vere reg vir die tweede Ignite and Revive-fees, wat beloof om nie teleur te stel nie.
Die makietie sal van 1 tot 3 September plaasvind met ’n propvol program wat vermaak vir oud en jonk bied. Carma en Stefan Lotter sal die seremoniemeesters op die geleentheid wees.
Die jongspan kan van die Saterdag om 14:00 na optredes deur The Growing Tree Learning Academy kyk, Trio Primêr se trompoppies sal optree en ’n revue-vertoning sal ook gelewer word. Die Trio Acappella, Dance Domination se dansers en JS Bounce sal ook optree. Animals in Need sal die jongspan die geleentheid gee om diere te voer, perderitte is beskikbaar en kinders wat kans sien daarvoor, kan saam met Bella die slang foto’s neem. Nog vermaak vir kinders sluit kameelritte, ’n ATKV-produksie genaamd Dinosourusse kan nie lees nie, gesigverf en ’n groot pretpark in.
Dié wat in die Saterdag se bulletjie- en laerskoolrugby belangstel, kan die kind se naam, van en ouderdom per WhatsApp-boodskap na 084-717-2020 stuur.
Vroue moenie vergeet om Saterdag om 10:00 saam met die bekende Lizz Meiring by die North High School (ou Rooiskool) te kuier nie.
Dit kos R150 per persoon. Daar is ook ’n teetuin waar lekker saam gekuier kan word.
Besoek Ignite and Revive se webtuiste op igniteandrevive.co.za of stuur ’n e-pos aan info@igniteandrevive.co.za, vir meer inligting.
Kaartjiepryse
Die kaartjies vir die vertonings se pryse is soos volg:
- Vrydag: R150 per persoon; en
- leerlinge (sewe tot 18 jaar) R120 per persoon.
- Saterdag: R150 per persoon; en
- leerlinge R120 per persoon.
- Naweekkaartjies: R250 per persoon; en
- leerlinge R200 per persoon
- Kinders jonger as sewe jaar kry gratis toegang.
Program
Vrydag 1 September
Die volgende sangers tree op:
17:30 Duane van der Berg & okes, Carmen Basson
18:30 Jako Bezuidenhout
19:30 Ricus Nel
20:30 Juanita du Plessis
21:30 Robbie Wessels
Saterdag 2 September
Die volgende sangers tree op:
17:30 Duane van den Berg
18:30 Armand Hofmeyr
19:30 Andriëtte Norman
20:30 Jo Black
21:30 Droomsindroom
Sondag 3 September
08:00 Kroonstad-selgemeente lofprysing en
aanbiddingsgroep
09:00 Onbeskaamd
10:00 Alan Ogilvie