Kroonstad-duiweboer bereik hoër hoogtes in wedvlug

‘n Duiweboer van Kroonstad is gekies as die voorsitter van die Noord-Vrystaat-wedvlugfederasie en het ook sy nasionale kleure vanjaar in die sportsoort verwerf.


‘n Duiweboer van Kroonstad is gekies as die voorsitter van die Noord-Vrystaat-wedvlugfederasie en het ook sy nasionale kleure vanjaar in die sportsoort verwerf.

Die 41-jarige Schalk Jonker van Kroonstad het in Maart sy nasionale kleure vir wedvlugduiwe tydens die Suid-Afrikaanse Nasionale Posduif-organisasie (Sanpo) se gala-prysuitdeling in Gqeberha ontvang. Hy is ook in Januarie as die voorsitter van die Noord-Vrystaat-wedvlugfederasie verkies.

In die afgelope vier jaar het Jonker uitstekend presteer en is drie keer as die Noord-Vrystaat-wedvlugkampioen aangewys en spog met ‘n rits eerbewyse op nasionale en provinsiale vlak.

Sy duiwe het onder meer die tweede plekke op nasionale vlak in die kategorieë middel en kortpad behaal.

Hy het ook die eerbewys vir die beste duif in die Vrystaat in 2019 ontvang. In 2021, 2022 en 2023 ontvang hy die eerbewys vir die Noord-Vrystaat-streek. Dié ywerige duiweboer het as jong seun aan die sportsoort begin deelneem. Hy het egter in die laaste vyf jaar meer kompeterend begin deelneem.

Hy was ook al in die geselskap van groot name soos Rassie Erasmus, Vyver Krog, Danie Hattingh en Kleintjie Strydom in dié sportsoort.

As nuwe voorsitter van die Noord-Vrystaatse federasie beoog hy om die sportsoort na nuwe hoogtes te neem. Hy wil graag meer jong, opkomende duiweboere betrek en leiding gee.

Dit is ook sy droom om meer kinders aan die sportsoort bloot te stel. Sy seun, Gerber Jonker (13), is vir die afgelope vier jaar die junior Noord-Vrystaatse kampioen en was in 2019 as die beste junior op nasionale vlak aangewys. Soos sy pa, geniet hy die sportsoort terdeë.

Jonker sien uit na die nuwe wedvlugseisoen wat op Saterdag 1 Junie begin en nooi alle belangstellendes na die byeenkoms.

Persone wat betrokke wil raak of meer inligting oor die sportsoort wil bekom kan vir Martin Botes, sekretaris van die Noord-Vrystaat-wedvlugfederasie, op 082-941-8646 bel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.