André van Pletzen van Ignite and Revive op Landbouweekblad se konferensie wat verlede week op Nampo-park by Bothaville aangebied is. Hy was een van 77 gassprekers wat aan die beurt gekom het.Foto: Verskaf


Op Landbouweekbladse konferensie Oplossings vir Suid-Afrika se platteland, wat op Nampo-park by Bothaville aangebied is, was André van Pletzen van die Ignite and Revive-groep in Kroonstad, een van die 77 gassprekers wat hul dorp se suksesverhale met kongresgangers gedeel het.

Sprekers van oor Suid-Afrika heen het op 20 en 21 Februarie hul planne, die uitvoerbaarheid daarvan asook suksesverhale gedeel.

“Dit was absoluut wonderlik om al die inspirerende stories te kon aanhoor, asook om Kroonstad se plan en verhaal te kon deel,” sê Van Pletzen.

“Daar is hoop en oplossings om ’n radikale verskil in enige gemeenskap te maak.”

Kroonstad wou eerstens ’n verskil in die dorp maak, asook ’n groeiende ekonomie en toerisme bevorder. Daarby is die doelwit om gehalteonderrig en -gesondheidsorg te bevorder en goeie tehuise vir bejaardes te vestig. Werkskepping en ’n voedingskema is ook uit die gemeenskap gebore.

“Om ’n dorp te red van verval en al die uitdagings wat daarmee gepaard gaan, moet daar ’n plan wees.

“Drie stappe was vir Kroonstad nodig om op te staan. Eerstens moet daar ’n span en ’n gemeenskap wees wat bereid is om moue op te rol. Dan moet daar ’n deeglike plan ingestel word. Derdens volg ons die Bybelse Nehemia-beginsel.”

Die Nehemia-beginsel kan in kort soos volg omskryf word: dat elke individu daarvoor verantwoordelik is om voor sy eie deur skoon te maak en om dit wat aan hom toevertrou is te onderhou.

In 2022 was Kroonstad die wenner van Kwêla op kykNET se Dorp van die jaar-kompetisie, en hierna het ’n groot aantal dorpe en groepe van oor Suid-Afrika heen by Kroonstad kers opgesteek.

Hieruit het nie net suksesverhale gevloei nie, maar ook die TV-program Lottoland Help ’n Dorp.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article