Kroonstad bly wen

Die vreugdevure het hoog gebrand nadat die Kroonstad-rugbyklub ’n naelskraap-oorwinning oor die Rovers van Welkom behaal het.


Die vreugdevure het hoog gebrand nadat die Kroonstad-rugbyklub ’n naelskraap-oorwinning oor die Rovers van Welkom behaal het.

Dié twee klubs se spanne het mekaar Donderdag (16/03) om 20:00 in die Down Touch Investments-stadion in Welkom gepak.

As voorsprong in ’n taai stryd was dit die Kroonstad-manne wat die eerste punte op die telbord kon aanteken, 5 – 0, danksy Cornel Saunders wat die bal agter die wit lyn gaan plant het.

Die Rovers was kort op hul hakke, maar dit was Zak van Niekerk wat Kroonstad met ’n tweede drie nog voorlooptyd gegee het.

Teen rustyd was die telling 10 – 3 in Kroonstad se guns.

Die Rovers het in die tweede helfte seker gemaak hul teenstanders weet hulle is op die veld en het verbete teruggeveg om die telling gou na te 17 – 13 verander.

Dit het egter as ’n naelbytstryd geëindig toe Kroonstad net voor die eindfluitjie met nog ’n drie deur Dian de Beer die telling na 18 – 17 kon verander.

Dit was die Kroonstad-rugbyklub se tweede wedstryd vir die seisoen. Die span het op 9 Februarie in Viljoenskroon teen die Stilfontein Hurricanes te staan gekom en met 10 – 7 koning gekraai.

Die klub is weer bedrywig nadat die Covid-19-pandemie spel in die wiele gery het.

Aanvanklik het net ’n paar jong manne van die dorp vroeg in die jaar saamgekom en begin oefen, maar ander belangstellendes is gou getrek.

Die klub oefen elke Maandag en Dinsdag van 18:00 tot 20:00 op die ou Rooiskool-rugbyvelde oorkant die Trio Hoërskool.

Die nuwe voorsitter is Merwe Snyman, met TP Kleynhans as spanbestuurder en Sanri van Wyk as sekretaresse.

Gerhard Klopper is die klub se hoofafrigter, met Tiaan van Wyk as hulpafrigter.

Volg die Kroonstad-rugbyklub op die sosiale media vir meer inligting oor wedstryde en klubbedrywighede.

You need to be Logged In to leave a comment.