Kritieke tonnelwerk klaar

Die Trans-Caledon-tonnelowerheid (TCTA) het die suksesvolle voltooiing van die instandhoudingswerk aan die Lesotho-Hoogland-waterprojek (LHWP) aangekondig.

Joernaliste besoek die Lesotho-Hoogland-waterskema-tonnel aan die Suid-Afrikaanse kant, waar opknappingswerk reeds voltooi is. Die tonnel aan die Lesotho-kant sal eers einde April afgehandel wees.

Madli Grobbelaar

Die Trans-Caledon-tonnelowerheid (TCTA) het die suksesvolle voltooiing van die instandhoudingswerk aan die Lesotho-Hoogland-waterprojek (LHWP) aangekondig.

Die ses maande se instandhoudingsprogram aan die Lesotho-Hoogland-waterskema-tonnels het verlede jaar op 1 Oktober begin en moes teen 31 Maart voltooi wees.

Percy Sechemane, uitvoerende hoof van die TCTA, het in ‘n persverklaring op Maandag 7 April bevestig dat die instandhouding aan die Suid-Afrikaanse kant van die afle-

weringstonnel afgehandel is.

“Die TCTA het bestendige vordering gehandhaaf ondanks talle uitdagings wat vertragings kon veroorsaak het, soos verhoogde vogvlakke in die tonnel. Terwyl die herstelwerk aan die Suid-Afrikaanse kant voltooi is, het die Lesotho Hoogland-ontwikkelingsowerheid, wat verantwoordelik is vir die Lesotho-kant, ‘n uitstel versoek weens vroeëre implementeringsuitdagings wat tot vertragings gelei het,” sê Sechemane.

Die volledige instandhoudingsprogram aan die LHWP-tonnel-noord sal na

verwagting einde April voltooi wees. Sechemane het gesê dat daar ‘n vertraging van ‘n paar weke sal wees voordat water weer deur die LHWP-tonnel kan vloei, maar dat dit geen invloed op die watertoevoer na Gauteng sal hê nie.

Volgens die jongste opdatering van die departement van water en sanitasie (DWS) op 14 April, was die Vaaldam op 112,8% kapasiteit.

Stephen Moore, DA-LP en adjunk-

woordvoerder oor water en sanitasie, het Vrydag 11 April aan VrystaatKroon bevestig dat die TCTA die werk aan die Suid-Afrikaanse deel van die tonnel afgehandel het, maar dat die werk deur die Lesotho- Hoogland-ontwikkelingsowerheid nog nie voltooi is nie.

“Die oorspronklike datum vir die voltooiing van die tonnel was 31 Maart en is verleng tot Maandag 21 April.”

In 2019 is bevind dat die staalvoerings van die tonnels dringend opknapping aan die Suid Afrika- en Lesotho-kant benodig.

VrystaatKroon het voorheen berig die DWS het in ‘n verklaring gesê die opknappingswerk is nodig om goeie infrastruktuur vir die volgende 20 tot 30 jaar te verseker. Die beplande instandhoudingswerk is onder die toesig van die Lesotho-Hoogland-waterkommissie , ‘n gesamentlike beheerliggaam van Suid-Afrika en die regering van Lesotho, en deur die Lesotho-Hoogland-ontwikkelingsagentskap (LHDA) en die TCTA gedoen.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.