Krane droog ná reënval

Al het mildelike reën oor groot dele van die Vrystaat uitgesak, is die inwoners van die Dihlabeng-munisipaliteit se krane meestal droog.

Swaar reën het sedert Donderdag (10/11) oor die Vrystaat uitgesak, en die gevolglike stygende watervlakke het groot skade aan sakeondernemings en woonhuise in Bethlehem aangerig. Die lugfoto wys hoe ’n swaarvoertuig in Mullerstraat deur ’n rivier van water ry.Foto: Facebook

Credit: SYSTEM

Hoewel mildelike reën oor groot dele van die Vrystaat uitgesak het, en veral in Bethlehem waar paaie in riviere ontaard het, is die inwoners van die Dihlabeng-munisipaliteit se krane grootliks droog.

Swaar reën het sedert Donderdag (10/11) in die streek geval, en die gevolglike stygende watervlakke het daartoe gelei dat die munisipaliteit Vrydagmiddag sy pompe by die Sol Plaatje-watersuiweringsaanleg (Saulspoort) verwyder het om skade aan die pompe te vermy.

Volgens Isoldé Laesecke, onafhanklike raadslid, is kragopwekkers nie beskikbaar om water te pomp nie. Paul Roux, Bethlehem en Rosendal is van dié watertoevoer afhanklik.

Die watervlak by die suiweringsaanleg word gemoniteer om vas te stel wanneer dit weer veilig sal wees om die pompe aan te bring, maar Laesecke meen die aanbring van die pompe kan dae neem, het Netwerk24 vroeër berig.

Maandagoggend het die munisipaliteit ’n kennisgewing aan inwoners uitgestuur dat die herstelwerk by die Saulspoort-watersuiweringsaanleg langer geneem het as wat verwag is.

Die herstel by die aanleg het gevorder, maar weens die swaar reën was dit onmoontlik vir die kontrakteur om die werk te voltooi.

“Die opknapping van die elektriese paneel by die rouwater-onttrekkings­punt is ook gefinaliseer,” het Tshediso Maitse, kommunikasie­beampte van die Dihlabeng-munisipaliteit, bevestig.

“Die opknapping was ’n saak van dringendheid om ’n verdere waterkrisis te vermy.

“Watertoevoer behoort binnekort herstel te wees.”

Weens verlede week se reën het die Sechaba-inkopiesentrum en ander sakeondernemings in die dorp oorstroom, en skade is aangerig aan verskeie huise in die dorp en Bohlokong, asook woonstelblokke en plase in die omgewing.

Paaie naby die Jordaanrivier was gesluit en kon eers weer heropen word toe dit veilig was.

  • Teen Dinsdagoggend was watertoevoer in Bethlehem gedeeltelik herstel, hoewel nog erg wisselvallig.

You need to be Logged In to leave a comment.