Krag lê in dankie sê

Die gees van dankbaarheid is sekerlik een van die kragtigste uitkyke op die lewe.


Die gees van dankbaarheid is sekerlik een van die kragtigste uitkyke op die lewe.

Volgens navorsing is dank­baarheid goed vir jou gesondheid. As ’n mens dank­baarheid in ’n pil kon verwerk, sou dit die beste verkoper van alle medisyne wees.

Dankbaarheid verhoog jou serotonienvlakke, wat goed is vir neuron-oordrag, en bring verstandelike gesondheid; dit verbeter sosiale vaardighede omdat dit goedvoel-hormone laat afskei; dit verhoog intelligensie omdat dit dopamien laat afskei; dit is boonop anti-inflammatories omdat dit kortisol laat afskei. Selfs die hartritme is meer stabiel in dankbare mense.

Al hierdie navorsing bewys net weer dat die Bybel waar is.

Is ’n mens nie maar dankbaar of ondankbaar gebore nie? Nee, dit kan aangeleer word.

Die skrywer van Psalm 92 het nie dié nuttige kennis gehad nie. Nogtans moedig hy mense aan om dankbaar te wees.

Dit is goed om die Here te loof, om u Naam te besing, Allerhoogste . . . u groot dade het my bly gemaak.

Só sê vers 1 en 5. Iemand wat God dank en eer, is ’n blymoedige mens.

Dit is ’n keuse wat ’n leefstyl van blydskap vestig. Probeer vandag in en deur alles God dank, en sien hoe die dag verander.

Here, maak my dankbaar vandag sodat ek ook ’n bly mens kan wees. Amen.


  • Els is ’n leraar aan die NG kerk Kroonstad-Suid.

You need to be Logged In to leave a comment.