“Noudat die winter hier is, is die DBV in Bethlehem se behoefte baie groot, en verskeie uitdagings staar ons in die gesig. Dit plaas natuurlik baie druk op die organisasie,” sê Corlene van der Merwe, voorsitter.
In die lig hiervan doen die DBV ’n beroep op die publiek om benewens skenkings van kos en komberse daartoe by te dra om die elektrisiteitsrekening te help vereffen. In die winter word van ligte gebruik gemaak om die diere in die hokke warm te hou.
Daarby moet die DBV maandeliks die veearts betaal wat die organisasie bystaan, asook die daaglikse en lopende koste.
Die Dierebeskermingswet bepaal hoe na diere omgesien moet word, asook hoe troeteldiereienaars en eienaars van plaas- en wilde diere gemoniteer behoort te word. Die DBV doen al baie jare lank onontbeerlike werk om dié wetgewing na te kom.
Tog is dit ’n niewinsgewende organisasie wat van borge en skenkers afhanklik is vir oorlewing. Die DBV ontvang geen staatsubsidie of geldelike ondersteuning van die plaaslike regering nie.
Vandaar die wekroep aan die gemeenskap om die organisasie te ondersteun in die werk wat gedoen word.
Die Bethlehem-tak lewer dienste aan Bethlehem, Clarens, Fouriesburg, Kestell, Lindley, Paul Roux, Reitz, Rosendal en Senekal.
Vir meer inligting, of om betrokke te raak, kontak die DBV by 058-303-3998.