Kosbare geloof beproef

God is goed. God is almagtig. God is in beheer. Dit is fundamentele waarhede wat ons nodig het om voluit te leef. Maar as ’n tragedie of trauma jou tref, kom vrae – veral as die teenspoed groot is en lank aanhou.


God is goed. God is almagtig. God is in beheer. Dit is fundamentele waarhede wat ons nodig het om voluit te leef. Maar as ’n tragedie of trauma jou tref, kom vrae – veral as die teenspoed groot is en lank aanhou.

Hoekom, Here? U is dan ’n goeie, almagtige God wat kontrole uitoefen. Het ek nie my geloof in U geplaas nie?

Soos in Matteus 26:39-44, het Jesus ook vrae gevra: “As dit U wil is, laat die beker by my verby gaan.” Matteus 27:46 lui: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” My God, my God, waarom het U My verlaat?

Geloof is nie om in die aangesig van moeilikhede sonder vrae te wees nie. Geloof is om ondanks vrae aan te hou glo en te gehoorsaam. Geloof is om die vrees te voel en dit in elk geval te doen. Leef ondanks omstandighede. Hou aan en volhard.

In Hebreërs 11 word verduidelik hoe geloofsmense aanhou. Hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en het in grotte en in gate in die grond gelewe. Hulle het in Hebreërs 11:40 bly glo, omdat God vir ons iets beters beoog het.

Geloof sing ’n lied: “Op berge en in dale, en oral is my God; waar ons ook telkemale mag swerwe, daar is God.”

Op die berge se toppe roep ek uit van dankbaarheid omdat ek glo lewe kom uit sy hand. In donker dale, waar God afwesig lyk, vind ek uitkoms omdat ek glo dit is steeds die moeite werd om aan Hom vas te klou.

Gebed

Here, my lewe is ook berge en dale. Ek wil ook aan U bly vashou sodat ek op berge en in dale kan leef. Amen.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.