Konferensie bemagtig boere

Landbouweekblad se herlewingslandbou­konferensie word in Maart weer aangebied. Die aanbieding van die geleentheid is in 2020 en 2021 weens die Covid-19-pandemie afgelas.


Landbouweekblad se herlewingslandbou­konferensie word in Maart weer aangebied. Die aanbieding van die geleentheid is in 2020 en 2021 weens die Covid-19-pandemie afgelas.

Internasionale sprekers en plaaslike landboukundiges sal kwessies soos die skerp styging in insetkoste bespreek.

“Dit is ’n voorreg om weer ons reeks herlewingslandboukonferensies, wat in dié tye baie nodig is, in Reitz, Ottosdal en Stellenbosch aan te bied,” sê Chris Burgess, hoofredakteur van Landbouweekblad.

“Met die astronomiese styging in insetkoste is dit natuurlik ook ’n goeie tyd om weer idees uit te ruil oor hoe die natuur ingespan kan word om boere se koöperasie-rekening te besnoei. Ons moet eenvoudig maniere vind om goedkoper en meer volhoubaar te boer.”

Op die konferensie sal boere die geleentheid kry om by internasionale sprekers kers op te steek, asook by boere wat herlewingslandboupraktyke suksesvol toepas.

Hulle sal ook meer oor die nuutste navorsing in dié veld kan uitvind.

Die erkende Brasiliaanse dekgewaskundige dr. Ademir Calegari sal boere toespreek, asook Pablo Etcheberry, ’n Argentynse beesboer wat ultrahoëdrukbeweiding suksesvol beoefen en gereedskap ontwerp om die bestuur daarvan te vergemaklik.

Plaaslike kundiges soos die graskenner Frits van Oudtshoorn, die entomoloog prof. Johnnie van den Berg en die ekonoom Mary Maluleke sal ook hul kennis deel.

Boonop sal die boere DF Fyfer van Vryburg, Danie Slabbert van Reitz en Adrian Bignell van Mazabuka, Zambië, hul insette op die konferensie lewer.

  • Die konferensie word op 7 en 8 Maart op die Reitz-skouterrein aangebied. Kaartjies kos R1 200 per persoon en is op Quicket beskikbaar.
  • Belangstellendes wat vroegtydig bespreek, kom vir korting in aanmerking. Diegene wat nie die konferensie kan bywoon nie, kan teen R500 aanlyn inskakel. Die konferensie word in samewerking met Sentraal24, die Riemland-studiegroep en ASSET Research aangebied.
  • Vier gelukkige lesers kan elk ’n kaartjie van R1 200 wen om die herlewingslandbou­konferensie by te woon. Om hiervoor in aanmerking te kom, stuur ’n e-pos na cs24.bemarking@media24.com. Dit moet die volgende inligting bevat: naam en van, telefoonnommer en e-pos-adres. Die wenners se kaartjies sal per e-pos aan hulle gestuur word.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.