Kompetisie gee ‘onregverdige voordeel’

“Die lewe is nie regverdig nie, en hierdie prestasie (om die Matrikulant van die Jaar-kompetisie te wen) gee jou ’n onregverdige voordeel in jou lewe vorentoe, bloot oor wat hierdie prestasie verteenwoordig.”.


“Die lewe is nie regverdig nie, en hierdie prestasie (om die Matrikulant van die Jaar-kompetisie te wen) gee jou ’n onregverdige voordeel in jou lewe vorentoe, bloot oor wat hierdie prestasie verteenwoordig.”

So het Chris Hoffman, 2012 se wenner van die kompetisie van die Universiteit van die Vrystaat (UV), Netwerk24 en Volksblad, gesê toe hy in 2022 die gasspreker was tydens die gala-aand waar die wenner aangewys is. Hoffman het aan die Hoër Landbouskool Marlow in Cradock gematrikuleer.

Hoffman, ’n aktuaris vir siekefondse, glo die kuns van ’n CV is dat dit vir jou ’n uitnodiging na ’n onderhoud moet verseker. “Die onregverdige voordeel wat jy kry, is dat jy ’n groter kans het om vir ’n onderhoud genooi te word aangesien jy gesien word as ’n gebalanseerde individu en iemand wat hard werk.”

Oor die jare heen het etlike plattelanders dié kompetisie gewen.

Verlede jaar se wenner, Michael de Bruyn, kom van Tadcaster buite Jan Kempdorp. Daar was ook wenners van onder meer Heilbron, Viljoenskroon, Kakamas, Dundee, Ficksburg en Jacobsdal. Veelsydige matriekleer­linge van oor die land heen wat beplan om volgende jaar heeltyds aan die UV te studeer, moet hulle teen 2 Augustus vir hierdie kompetisie inskryf. Leerlinge wat as finaliste in die kompetisie aangewys word, moet op akademiese, leierskap-, kultuur- en sportgebied presteer.

Inskrywings kan deur leerlinge of deur hul skole ingedien word. Die vorm moet egter die handtekening van die skoolhoof en die stempel van die skool bevat.

Kandidate word beoordeel op grond van ’n stel kriteria wat oor jare verfyn is. Hierdie kriteria bepaal die identifisering van 25 semifinaliste, waaruit eindelik 14 finaliste gekies word.

Die eindronde vind van 30 September tot 2 Oktober in Bloemfontein plaas.

Die wenner en 13 finaliste ontvang prysgeld van die borge die Kovsie Alumnitrust, Forvis Mazars, Absa, en Pick n Pay Preller Walk. Daarbenewens word beurse van UV Studentewerwingsdienste toegeken, en geskenke ter waarde van R15 000 tydens die eindronde.

Twee uitblinkers in die top 14 op sportgebied en kultuurgebied ontvang ook elkeen bykomend R5 000 prysgeld van die Kovsie Alumnitrust.

Vir die 11 semifinaliste is daar ook erkenning.

Hulle ontvang prysgeld van die Kovsie Alumnitrust en beurse van UV Studentewerwing.

Vir inskryfvorms of verdere inligting, kontak Linda Greyling per e-pos by greylinl@ufs.ac.za of skakel 082-929-9999.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.