Kommer knou nuwe jaar se hoop

’n Nuwe jaar is veronderstel om vol hoop en afwagting te wees. Tog is die regerende party se prestasierekord bedenklik wanneer dit daarby kom om landsburgers die nuwe jaar met opgewondenheid te laat ingaan.


’n Nuwe jaar is veronderstel om vol hoop en afwagting te wees. Tog is die regerende party se prestasierekord bedenklik wanneer dit daarby kom om landsburgers die nuwe jaar met opgewondenheid te laat ingaan.

Boonop het verlede jaar vir die land en sy mense uiteenlopende uitdagings ingehou.

Die verkiesing in die laaste kwartaal het groot kommer gewek, met talle kiesers wat doodeenvoudig nie gaan stem het nie. Hier het die regerende party ’n vuishou in die maag gekry en weens binnegevegte en ’n swak verkiesingsuitslag amper in duie gestort.

Oor die algemeen laat die dienslewering van plaaslike munisipaliteite in die Vrystaat veel te wense oor. Inwoners kan nie oor diens kla nie, want daar is geen diens nie, is wyd die opvatting.

Die rioolaanleg in Kroonstad, wat in opdrag van adj. pres. David Mabuza teen 15 Desember herstel moes wees, is steeds nie herstel nie. Dit wil ook voorkom asof niemand werklik seker is wat die stand van sake is nie, of wanneer die projek gefinaliseer sal word nie.

Dorpe in die Dihlabeng-munisipaliteit ervaar voortslepende watertekorte; die een krisis op die ander. Oor die feestyd het inwoners dae lank met dié probleem gesit.

Onafhanklike groepe is die nuutste neiging in bykans elke dorpie in die Vrystaat. Inwoners vat hande en wend suksesvolle pogings aan om hul dorpe te verbeter. Is dit volhoubaar?

Hulle dien as krukke vir die munisipaliteite, wat reeds in ’n diep, donker put sit.

You need to be Logged In to leave a comment.