Kokkedoor trek ‘n nuwe voorskoot aan

Die tiende seisoen van kykNET se gewilde koswerklikheidsreeks, Kokkedoor, trek nie net ‘n nuwe voorskoot aan nie, maar spog ook met twee nuwe beoordelaars. In die nuwe program, wat nou […]


Die tiende seisoen van kykNET se gewilde koswerklikheidsreeks, Kokkedoor, trek nie net ‘n nuwe voorskoot aan nie, maar spog ook met twee nuwe beoordelaars.

In die nuwe program, wat nou bekend sal staan as Kokkedoor: Son & See, is die beoordeelaars die koskenners Herman Lensing (37) en Yolani Abrahams (32). Hulle sal bepaal wie in die reeks koning in die kombuis gaan kraai.

KykNET is op soek na deelnemers om deel van die nuwe opwindende reeks te wees. Hulle moedig veral die Vrystaters aan om vir die nuwe uitdaging in te skryf. Hierdie nuwe seisoen is die vyfde in die Kokkedoor-familie, wat vroeër al Kokkedoor: Vuur & Vlam, Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie insluit. Die wenners van die nuwe reeks kan ‘n prysgeld van R 500 000 losslaan.

Volgens Wilmer Müller, die publisiteitsbestuurder, is daar ‘n paar unieke elemente wat Kokkedoor: Son & See spesiaal maak. “Deelnemers moet as ‘n span van twee familielede inskryf, met ‘n generasiegaping van minstens 20 jaar tussen hulle. Dit kan ‘n ouma en kleindogter wees, of dalk ‘n ma en seun – solank daar ‘n familieband is en die jongste lid minstens 18 jaar oud is.”

Nog iets wat anders is, is dat daar slegs huiskokke gesoek word, so professionele sjefs sal nie toegelaat word nie. Die rede vir die besluit is dat Kokkedoor: Son & See op die nostalgiese rol wat kosmaak in families speel en hoe dit generasies met mekaar verbind wil fokus.

Die nuwe aanbieders, Herman en Yolani, het reeds ‘n groot indruk in die Suid-Afrikaanse koslandskap gemaak. Albei het sjefskwalifikasies en het al in verskeie kook- en leefstylprogramme op televisie verskyn.

Wat jy alles moet weet om in te skryf:

• Kry die aansoekvorm by kyknet.tv en volg die stappe of stuur ’n e-pos aan navrae@kokkedoor.tv.

• Sluitingsdatum vir inskrywings is Woensdag 30 April.

• Die jongste lid van die span moet ten minste 18 jaar oud wees en die generasie- en ouderdomsverskil tussen die spanlede moet ten minste 20 jaar wees.

• Daar moet ’n familieverwantskap wees, soos ’n ouer of stiefouer, oupa, ouma, skoonfamilie, ooms, tannies, niggies of neefs.

• Oudisies sal in Kaapstad gehou word van 5 tot 9 Mei 2025.

• Verfilming is van 20 Junie tot 3 Julie 2025 in Struisbaai.

So, as jy en jou familielid reg is om jou kooktalent te wys, skryf nou in vir Kokkedoor: Son & See, en wie weet, dalk is jy die volgende ster in die kombuis.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.