Koester dié tyd van samesyn

Ná ’n jaar vol uitdagings – uitdagings wat op steroïdes kom inloer het – breek die laaste maand, Desember, eindelik aan. Inkopiesentrums en winkels is vertoonvensters van die mooiste Kersversierings, en Kersmusiek skep die seisoen se atmosfeer.


Ná ’n jaar vol uitdagings – uitdagings wat op steroïdes kom inloer het – breek die laaste maand, Desember, eindelik aan. Inkopiesentrums en winkels is vertoonvensters van die mooiste Kersversierings, en Kersmusiek skep die seisoen se atmosfeer.

Die feestyd is op ons drumpel. Kinders en universiteitstudente is by die huis in dorpe en geesdriftigheid vlam opnuut op. Dit is lekker om almal raak te loop en sommer net te hoor hoe dit gaan.

Dit is mos ’n luuksheid in ons gejaagde lewe. Dit laat my met heimwee terugdink aan Kersfees as kind, toe ons gereeld by my ouma op die platteland gaan kuier het.

In die hartjie van die Karoo, aan die voet van die Swartberge, het ons heerlike en besonderse Kerstye beleef.

Elke jaar het familie en vriende van heinde en ver daar bymekaargekom.

Dit was ’n gekuier van vroeg soggens tot laat saans: sorgvrye dae vol pret en plesier.

In die Swartbergpas, wat beslis een van die mooiste plekke op aarde is, was daar destyds heerlike piekniekplekke waar ons bykans daagliks gaan piekniek hou het.

Dit was altyd die hoogtepunt van die somervakansie.

In die bloedige somerhitte kon ons tussen die magiese en majestueuse kranse van die Swartberge in heerlik yskoue water­stroompies swem.

Daar is geëet, gekuier en rustig onder die bome in die vars berglug uitgespan.

Die lewe was ’n lied.

Dus, elke jaar wanneer die Kersversierings hul langverwagte verskyning oral in die winkels maak, en die dorp weer begin wemel van die kinders en studente, dink ek met heimwee terug aan hoe opgewonde ons altyd was om by ouma in die Karoo te gaan kuier.

Daardie afwagting – en dan die heerlike samesyn met familie en vriende – is wat ek koester.

Hoewel dinge baie anders lyk as in daardie tyd, is dit die mense met wie ons onsself omring wat belangrik is.

Dit is die spesiale herinneringe wat ons in dié tyd skep en wat in ons geheue afgedruk word.

Koester jou mense en hou hulle na aan die hart.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.