Die Kroonstad-gemeenskap is in rou gedompel na ‘n voormalige en bekende koerantafleweraar van Kroonstad se skielike afsterwe.
Die 65-jarige Pieter Venter, bekende en voormalige koerantafleweraar van Kroonstad, is vermoedelik aan inwendige bloeding weens ‘n rou seer wat gebars het oorlede. Dit nadat hy kort voor sy afstrewe ‘n breuk-operasie ondergaan het. Huldeblyke het op sosiale media ingestroom toe die nuus van sy dood bekend geword het.
Venter wat sedert 1987 hoofsaaklik die Volksblad, Rapport en Huisgenoot in Kroonstad afgelewer het, is op 25 Maart geopereer en het op 30 Maart gesterf.
Hy was ‘n boorling van Oos-London wat in Germiston grootgeword en skoolgegaan het. In 1987 het hy na Kroonstad verhuis waar hy by sy suster Annemarie Pretorius (69) tot met sy afsterwe gewoon het.
“Pieter het van 1987 toe hy homself hier in Kroonstad gevestig het, die koerante en tydskrifte afgelewer. Sy werk was absoluut sy trots. Ongeag wat die omstandighede was Pieter elke dag op sy pos en het sy werk pligsgetrou gedoen,” sê Pretorius.
Carol-Marie Jordaan, eienaar van Lily’s Poetry in Kroonstad, sê hulle gaan al Pieter se lekker stories en geselsies mis. Hy het ook by hulle die koerante en tydskrif afgelewer.
“Ons het vir Pieter gereeld bederf, maar veral op sy verjaarsdag en hy was altyd so dankbaar vir die bederfies. Kroonstad gaan beslis nie weer dieselfde wees sonder hom nie,” sê Jordaan.
Venter is beskryf as ‘n nederige persoon met ‘n vriendelike glimlag wat geen moeite ontsien het vir sy medemens nie. Hy het altyd ander se belange op die hart gedra. Sy roudiens het op Vrydag 4 April uit die NG kerk Kroonstad-Suid plaasgevind en die diens is deur ds. Gerhard Wessels waargeneem.
Hy word deur sy vyf susters Marie Taute, Martie de Lange, Rienie Pienaar, Kiewiet van Zyl, Annemarie Pretorius en twee broers Steven en Eugéne Venter oorleef.