Die 37-jarige veespekulant wat daarvan verdink word dat hy Evan Sorour (28) buite Ficksburg doodgeskiet het, het ’n huis gehuur op die plaas waar Evan en sy pa, Reuter Sorour, Sondag (08/01) hul beeste gaan haal het.
Sorour het Maandag (09/01) vertel hoe dit gebeur het dat sy seun doodgeskiet is. Hy sê die boerdery se beeste het Sondag (08/01) deurgebreek na die plaas Moolmanspruit.
Rick Dell, wat die plaas huur het Evan gebel om te sê hulle beeste is op sy huurgrond.
Evan en sy pa is laatmiddag op motorfietse na die plaas om die beeste terug te jaag. Die huis op die plaas Moolmanspruit word onderverhuur aan die veespekulant en moordverdagte.
Sorour sê hulle beeste en die van Dell het deurmekaar geloop en hulle moes die beeste uitsoek.
Dell is vort toe die beeste uitgesorteer is. Evan het begin om die Sorour’s se trop beeste aan te jaag. Sorour sê die huis waarin die spekulant bly is ongeveer 200 m vanwaar hulle die beeste uitgesoek het.
Die veespekulant het met sy bakkie na Sorour gejaag en hom begin skel en dreig.
Sorour sê die man het hom met die vuis van sy motorfiets geslaan en terwyl hy op die grond lê aangerand.
“Hy het in ’n stadium sy voorarm om my nek gesit en my aan my nek van die grond af opgetel,” sê Sorour.
Sorour het in die rigting van sy seun gehardloop, wat onbewus daarvan was dat sy pa aangeval word.
“Jy kan maar hardloop ek sal jou doodmaak al is dit in jou huis,” het die woedende man glo aan Sorour geskreeu.
Sorour sê toe hy by Evan kom het hulle saam probeer om weg van die man te kom, wat agter hulle aangery het. Sorour het deur die ruwwe terrein gestap terwyl Evan met die motorfiets gery het.
Die spekulant het aangehou om hulle met sy Toyota Landcruiser deur die veld te volg. Die mans het oor ’n massiewe rotsbank padgegee, in die hoop om hul aanvaller af te skud.
Evan het in ’n stadium die motorfiets neergesit en hulle het verder oor die rotsagtige terrein geretireer, terwyl die man al nader gekom het.
Sorour sê hy en Evan het besef hulle is in gevaar en padgegee na waar hulle gehoop het hulle is veilig.
Die man het naby hulle stilgehou en hulle te voet gevolg en weer vir Sorour aangerand.
“Ons het aanhou retireer, toe klap die skote en my seun lê op die grond.”
“Ek het gehoor hoe sê die man ‘eina bliksem’, voordat hy nog skote afgevuur het, en na sy bakkie gestap het en weggery het,” vertel Sorour.
Hy het die swaargewonde Evan in die veld gelos en ’n ent geloop tot waar hy selfoonsein gekry het en hulp ontbied.
Die 19-jarige Albert het sy pa en broer met ’n bakkie gaan haal en hulle het hospitaal toe gery.
Evan is net buite Ficksburg deur paramedici, wat hulle ingewag het, dood verklaar. Die vermeende moordenaar het mediese hulp gesoek en is onder polisiebewaking in die hospitaal in Bethlehem.
Hy het klagte teen Sorour ingedien en beweer hy het uit noodweer opgetree. Evan se meisie Magretha Vlok was Sondag op pad na Philipyne vir ñ vakansie en het toe sy daar land, gehoor van sy dood. Sy was Maandag (09/01) op pad terug na Suid-Afrika. Evan word ook oorleef deur sy ma, Anneke, ’n broer, Albert Sorour, en suster, Robyn Sorour.