Die fotografieklub van die Hoërskool Paul Erasmus in Senekal is onlangs onder leiding van Willie van Jaarsveld gestig.
“Ons is almal baie opgewonde oor die fotografieklub, en tussen my en Niekie Pieterse hoop ons om by lede die besonderse kuns van, en liefde vir, fotografie te kweek,” verduidelik Van Jaarsveld.
“Lede is vry om na hartelus skeppend agter die lens te raak, en elkeen van ons lede het hope potensiaal.”
Die klub het tien lede, waarvan nege leerlinge is en een ’n volwassene.
Op die klubvergadering een keer per maand kry lede ’n opdrag van dit wat hulle op kamera moet vasvang. Nadat elke opdrag voltooi is, word lede se foto’s geëvalueer om die wenner te bepaal.
“Ons beoog om in die toekoms professionele fotograwe en gassprekers te nooi wat ons lede rakende die nuutste tendense, en natuurlik kamerategnieke, kan touwys maak.”
Die klub beplan ook uitstappies wat unieke fotografiegeleenthede behoort te bied.
Volgens Van Jaarsveld het lede hulself reeds oortref en met asemrowende foto’s verras.
Hulle het Woensdag (17/08) en Donderdag ’n opdrag aangepak tydens die Plascon-sportgeleentheid by die Hoërskool Paul Erasmus, toe onderwysers teen die gr. 11- en gr.. 12-leerlinge op die sportveld kragte gemeet het. Klublede is uitgedaag om die beste moontlike aksiefoto van die sportgeleentheid te neem.
Bel Van Jaarsveld by 082-925-6820 vir meer inligting oor die klub.