Twee krieketklubs van Kroonstad het saamgesmelt om die gemeenskap ’n sterk en meer mededingende klub te bied.
Die voormalige Kroonstad- en Old Players-krieketklub het die aankondiging oor die samesmelting in Junie op die klubs se jaarvergaderings gedoen.
Die nuwe klub staan as die Kroonstad Players-krieketklub bekend. Die voormalige Old Players-geriewe, wat nou as die Parravlei-krieketvelde bekend staan, sal gebruik word, asook die velde van die voormalige Kroonstad-krieketklub, wat as die Anton Tone Steyn-park bekend staan. Dié terrein is genoem na die belowende speler Anton Steyn (22) van die dorp wat in September 2019 in ’n motorongeluk dood is.
Die klub beoog om teen die einde van die 2023-’24-seisoen drie velde en oefennette beskikbaar te hê.
“Die samesmelting was nodig om ’n sterker krieketklub te stig, en ons is trots om te sê die nuwe klub het drie spanne wat op distrik- en provinsiale vlak, soos in die Fezile Dabi-liga, kan deelneem,” sê Riaan Cronjé, voorsitter van die nuwe klub.
Die klub het op 3 September sy eerste vriendskaplike wedstryd teen die Klerksdorp-krieketklub gespeel.
Die span van Klerksdorp het eerste gekolf en is almal vir 209 lopies uitgeboul.
Riaan Cronjé het in sewe beurte drie paaltjies gevat vir 31 lopies. Elwin McPherson het in tien beurte twee paaltjies vir 58 lopies gevat en Werner Moolman, Jeffery Jacobs, Vincent McPherson en Duncan Cronjé het ook elkeen ’n paaltjie gevat.
Henrich Boshoff en Stefan Wiesenaar het die kolfwerk geopen en het ’n vennootskap van 72 lopies aangeteken voordat Wiesenaar op 47 lopies uitgevang is. Boshoff het sy 50 gekry en is net daarna ook uit.
Louis Boshoff het die wedstryd voltooi met 82, nie uit nie, van 40 balle, saam met Vincent Mcpherson se 24, nie uit nie. Die Kroonstad Players het 213 lopies in 20.5 beurte geslaan en die wedstryd met sewe paaltjies gewen.
Cronjé sê die klub sien uit na ’n nuwe seisoen veral omdat hulle reeds oor sterk krieketspelers beskik, maar hy nooi ook graag alle belangstellendes uit om hulle by die klub aan te sluit.
Om navrae te rig of meer inligting oor die klub se bedrywighede te kry, bel Riaan Cronjé op 084-465-5521.