Klub fokus op groei

Die Kroonstad-fotoklub het onlangs op ’n uitstappie na Sandton, Johannesburg, gegaan waar lede die geleentheid gebied is om foto’s met verskeie tegnieke in die stad te neem.


Die Kroonstad-fotoklub het onlangs op ’n uitstappie na Sandton, Johannesburg, gegaan waar lede die geleentheid gebied is om foto’s met verskeie tegnieke in die stad te neem.

Op Saterdag 10 Februarie, onder leiding van Mark Straw van die Joburg Photowalkers, het 31 klublede die kans gekry om na hartelus hul kreatiwiteit uit te leef.

Die fotografieklub het elke jaar ’n propvol program en onderneem uitstappies na plase, dorpe of stede sodat lede kan eksperimenteer en tegnieke soos byvoorbeeld nagfotografie kan oefen en bemeester.

Hulle het ook plekke soos Hartbeespoortdam, Fouriesburg, Kaapsehoop, Underberg en Sani-pas besoek om hul stokperdjie te beoefen.

“Ons is ’n groep amateurfotograwe wat deur middel van besprekings, beoordeling, verskeie uitstappies, opleiding en kundige sprekers ons fotografie wil verbeter,” sê Veronica Heersink, voorsitter van die klub. Opleiding word deur die senior fotograwe van dié klub hanteer en lede van die klub kan van ’n een ster tot ’n vyf ster, of selfs tot op meesters vlak vorder.

Die klub, geafilieer by die Fotografiese Vereniging van Suid Afrika (PSSA), is amper 50 lede sterk wat uit skoolgaande kinders tot afgetrede persone bestaan.

Heersink sê die klub doen hoofsaaklik opleiding oor naweke waar voornemende en nuwe fotograwe opleiding ontvang om vertroud te word met hul kameras, komposisiereëls, basiese opleiding in fotoverwerkingsprogramme soos Adobe Photoshop en spesiale tegnieke.

Op die eerste Maandag van elke maand kom klublede bymekaar om foto’s te bestudeer en te evalueer.

Dan word wenke gedeel om die kuns van fotografie te bemeester.

“Dit is heerlik om saam met mense wat dieselfde belangstelling het of stokperdjie beoefen, bymekaar te kom. Ons is werklik soos een groot gelukkige fotografie-familie,” sê Heersink.

Vir meer inligting oor die klub, bel 072-456-4855 of stuur ’n e-pos aan kroonstadfotoklub@gmail.com.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.