Kleiner huisies word ál groter neiging

Die minimalistiese leefwyse wat ’n klein huisie teweegbring, is deesdae hoogmode.

Debbie Agenbag (53) en haar Franse poedel, Bruno, is tuis in hul klein Rosendal-huisie.

Credit: SYSTEM

Die minimalistiese leefwyse wat ’n klein huisie teweegbring, is deesdae hoogmode.

Met die verfilming van die leefstylprogram Spasie wat op kykNET uitgesaai is, het mense van oor die land heen die bouproses van unieke klein huisies gedeel.

In Rosendal, waar sewe van dié huisies reeds opgerig is, is daar ook ’n draai gemaak.

Debbie Agenbag (53), sakevrou en inwoner van Rosendal, was tydens die verfilming in die beplanningsfase en bouproses van ’n nuwe huisie.

“Om af te skaal en kleiner en eenvoudiger te lewe is nou aan die orde van die dag,” sê sy.

“Dit is asof mense veral ná die Covid-19-pandemie meer na buite wil beweeg en minimalisties wil leef.”

Sy het juis van Pretoria na Rosendal verhuis om ’n eenvoudiger bestaan te voer.

Klein huisies bestaan gewoonlik uit twee, of miskien drie, klein vertrekke wat aan al die basiese behoeftes van enige normale huishouding voldoen. Slim beplanning verseker dat elke ruimte optimaal benut word.

Debbie meen veral stadsmense smag daarna om af te skaal.

“Mense wil nader aan hul omgewing, die natuur en hul medemens wees,” sê sy.

“Dié eksklusiewe wooneenhede is egter beslis nie ‘glorified shacks’ nie.”

Klein huisies word uit duursame boumateriaal gebou en met luukse afwerkings afgerond. Boonop is dit deesdae die neiging om huisies met ’n baie ligte staalraamwerk aanmekaar te sit, wat dit ’n moderne gevoel gee.

“Groot belangstelling is reeds geprikkel by mense wat kwaliteit bo kwantiteit verkies, en natuurlik vind hulle finansieel hierby baat. Dit is immers goedkoper as gewone boukostes, en die eienaars bespaar baie meer op instandhouding en daaglikse onderhoud.”

Sy reken gehalte en luuksheid hoef nie ingeboet te word nie.

“Inteendeel – danksy al die besparings kan jy jou huisie baie luuks inrig,” sê sy.

“Die minimalistiese leefwyse is ’n wilsbesluit. Om kleiner te lewe moet ons van die idee ontslae raak dat gro­ter beter is. Die fokus het beslis verskuif.”

In Suid-Afrika is die beweging nog nuut, en weet mense nie regtig hoe en waar om te begin nie. Daarom het Debbie ’n Facebook-blad, Building Tiny Houses – The Journeys, begin.

Mense kan daar na die beplanning gaan loer, en word aangemoedig om idees uit te ruil en hul gevoel oor die beweging te deel.

Debbie is by verskeie ondernemings, onder meer ’n konstruksiemaatskappy, betrokke, en is die trotse eienaar van die Rosendal Outdoor Hub-inligtingsentrum. Hoewel sy baie bedrywig is, is haar hooffokus om die kleinhuisiebeweging te bevorder en aan mense te verduidelik hoe goed dit vir die siel is om in eenvoud te leef.

You need to be Logged In to leave a comment.