Kleine bytjie, grote lewensvreugde

Hulle sê dit is die klein dingetjies in die lewe wat saak maak.


Hulle sê dit is die klein dingetjies in die lewe wat saak maak.

Vandag dompel ’n bytjie homself in my “flat white” terwyl ek sit en werk.

Eers dink ek hy gaan dit nie oorleef nie – dit was by wyse van spreke ’n “double-shot” gewees.

Taai en verdwaas sit die outjie langs my koppie ná ’n reddings­poging met ’n lepel. Wriemelend vies soos iemand wat in honde-dinges getrap het. Geïrriteerd met homself, so amper asof hy vir homself wil sê: “Jasper, blomme en soetgoed, hoe op aarde duik jy in ’n koppie koffie in?”

Ek is seker dit is die vraag wat die bytjie homself afvra, en met so ’n koffielyf kan hy nêrens heen vlieg nie.

Ek stort hom maar met twee teelepels water en dag eers dit is verby met die outjie toe hy skielik begin wriemel en omdop.

Hoog op kafeïen, dink ek. Al wat my hoop gee, is so ’n sporadiese skop-skop met sy voorbeen elke dan en wan – jy weet, soos wanneer ’n hond droom oor die vlakhaas wat hy besig is om te jaag.

Ek besef ek sal die bytjie moet red en tuit maar my lippe soos Marilyn Monroe en blaas saggies op hom. Weet nie of dit my koffieasem is, waarvan hy sweerlik genoeg gehad het nie, maar so uit sy beswyming begin hy lewe toon.

Vies begin hy homself skoonmaak. Fassinerend om dit te kan beleef.

Die volgende oomblik wen hy sy vlerkies, sukkel-sukkel, stotter-stotter soos ’n ou Ford in die winter.

Hy wriemel nog so ’n keer of wat, skud sy agterlyf, en toe verkas Jasper. Weg, na die blomme toe.

Ek kan nie vir julle die genot verduidelik wat ek ervaar toe die knapie uiteindelik wegvlieg nie.

Dit is immers die klein dinge in die lewe wat alles die moeite werd maak. Soos om ’n bytjie te red of myself te vergaap aan mooi marlothii-aalwyne wat blom.

Soek die mooi en die glimlag van die lewe.

You need to be Logged In to leave a comment.