Klein gebaar het die grootste trefkrag

Ek luister die ander dag na ’n radio-praatjie oor die voor- en nadele van sout.


Ek luister die ander dag na ’n radio-praatjie oor die voor- en nadele van sout.

Sout is inderdaad ’n wonderlike ding.

Buiten dat dit normaalweg as ’n geurmiddel gebruik word, is dit nog altyd as ’n preserveer-, ontsmet- en selfs bleikmiddel gebruik. In verskeie skrywes oor die eeue heen lees ’n mens oor die belangrikheid van sout – in kos, maar ook om chemiese produkte te vervaardig. Moet ook nie vergeet watter rol dit in die basiese liggaamsfunksies van die mens speel nie.

Hoewel medici ’n mens met ’n valkoog dophou omdat te veel sout nadelig kan wees, kan ’n mens ook nie daarsonder nie.

Ek lees op die internet ’n paar skryfstukke en kom tot die slotsom dat ’n mens sout nie gering moet ag nie. Sedert die mens se bestaan, word sout as ’n lewensnoodsaaklikheid beskou en dit speel tot vandag nog ’n rol op verskeie terreine van die lewe.

Ons lees gereeld hoe filosowe sout as voorbeeld gebruik om die belangrikheid van menswees uit te beeld.

In die Bybelse tyd is selfs met sout handel gedryf.

Ek het ook gehoor dat sommige mense, veral in dele van die Noord-Kaap, soms ’n knypie sout by hul koffie voeg om dit smaakliker te maak.

Die uitdrukking “sout van die aarde” word gebruik om mense met ’n opregte hart, wat op verskeie en nederige maniere ’n verskil in ander mense se lewe maak, te beskryf. Mense wat omgee en wat verstaan.

Daarom moet ons soos sout wees en waarde toevoeg tot die mensdom.

Veral in ’n wêreld wat meestal op sy kop is, wees jy daardie bietjie sout vir jou medemens.

Gee weer smaak aan iemand se lewe. Moenie laf word en van geen nut wees nie.

Al is dit bloot deur ’n glimlag, ’n klop op die skouer of net ’n oor wat luister.

Kom ons wees sout vir ander. Wees ’n sout-van-die-aarde-mens.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.