Die VKB Foods-winkels is ontwerp en geposisioneer om ’n diversifiseringstrategie te ondersteun wat ten doel het om geleenthede in die algemene verbruikersmark in die bedieningsgebied te ontgin.
Die geleentheid om ’n vollediger kruideniers- en verbruikersgoedere-aanbieding beskikbaar te stel, het uit klante in die streek se behoeftes ontstaan en is mettertyd uitgebou in ’n unieke konsep wat juis die strategie om te diversifiseer uitvoer.
Die strategie ondersteun op sy beurt die skep van ’n behoefte na die verskeidenheid kommoditeite wat in die bedieningsgebied geproduseer word. Nywerhede wat deur die VKB-groep besit word, verwerk die produkte – wat koring, mielies en soja insluit – tot ’n produk wat onder sterk gevestigde handelsmerke teen uiters ekonomiese pryse deur VKB Foods aan die eindverbruiker gebied word.
Die VKB-groep se strategieë ten opsigte van terugwaartse integrasie en waardetoevoeging het gelei tot die vestiging van sterk huishoudelike handelsmerke, wat Grain Field Chickens, Magnifisan en Super Sure insluit. Hierdie handelsmerke maak die kern van die aanbieding uit, maar dit word ook aangevul deur ’n reeks produkte wat in die behoefte van klante kan voorsien.
Deur middel van voortdurende marknavorsing, terugvoering en insette van klante word die aanbod gereeld hersien, aangepas en uitgebrei om soveel van ’n volledige kruideniersmandjie as moontlik te bied.
Vriendelike diens en ’n veilige omgewing, tesame met goeie bevoorrading en mededingende pryse, vorm die kern vir die VKB Foods-winkels se belofte aan klante.
VKB Foods nooi klante om die winkels in Reitz, Bethlehem, Frankfort, Vrede en Harrismith te besoek vir eg Oos-Vrystaatse gehalteprodukte.