“Net soos dit vir my ’n uitlaatklep is wanneer ek musiek maak, is dit ook vir mense wat daarna luister ’n oomblik wanneer hulle net van die daaglikse lewe en bekommernisse kan vergeet.
“Die genot en glimlagte spreek boekdele,” sê Ryno Steyn (36), beter bekend as DJ Crazy van die Oos-Vrystaat.
DJ Crazy het in die afgelope 20 jaar op duisende geleenthede jeukende voete se dansvermaak verseker.
Ryno is in Reitz gebore en getoë, waar hy ook tans by VKB woon en as digitalemediabestuurder werk.
In sy vrye tyd bedryf hy sy onderneming, Magic Moments Audio, ’n alles-in-een-diensverskaffer – van klank en beligting tot videografie.
Hy het sy liefde vir musiek op 16-jarige ouderdom op ’n private geselligheid ontdek. Daar en dan het hy besef dat om musiek te maak, vir hom ure se genot sou verskaf.
In die beginjare van sy musiekloopbaan moes hy met CD’s musiek maak en het gevind dat dit baie tydrowend is om die CD’s kort-kort te ruil.
“Daar was nie juis ander opsies op daardie tydstip nie. Ek het ’n musiekmenger aangeskaf om die stiltes tussen dansnommers uit te skakel.”
Dit was ná ’n besoek aan ’n nagklub in Johannesburg dat Ryno besluit het om sy musiek so egalig moontlik inmekaar te laat vloei. Hy het die regte toerusting aangeskaf, waarna die spreekwoordelike koeël deur die kerk is.
Ryno het ’n mobiele danseenheid, Crazy Sounds, begin en het vir gesellighede, van skooldanspartye tot troues, musiek gemaak.
Nie lank daarna nie het mense na aanleiding van Crazy Sounds hom DJ Crazy begin noem, en só staan hy vandag bekend.
Hy droom daarvan om eendag vir ’n daglange dansfees musiek te maak – en as dit oorsee kan wees, nog beter.
Hy was al bevoorreg om skouer aan skouer met groot name in die bedryf te wees, soos DJ Morgan, Lady Lea, DJ Dizzy en Chunda Munki en het op feeste opgetree waar Die Heuwels Fantasties, Loufi, Early B, Appel, Riaan Benade, Sunset Sweatshop, Bernice West te hoor was, om maar net ’n paar te noem.
Musiek is Ryno se passie, en wanneer hy nie musiek maak nie sal jy hom by die rekenaar vind waar hy musiek verwerk vir DJ Crazy se unieke klanke.
Op die vraag wat sy gunstelingmusiek is, antwoord Ryno: “enige musiek”.
Hy reken om musiek vir enigiets van troues tot nagklubs te kan bied, moet hy ’n verskeidenheid na die tafel kan bring.
Elektroniese dansmusiek is boaan sy lysie vanweë die tegniese vernuf wat dit verg, wat ook help om die musiek so foutloos as moontlik inmekaar te laat vloei.
Sy eerste enkelsnit sal in Desember op Spotify bekendgestel word.
Om sy 20 jaar in die musiekbedryf te vier, beplan hy die 20 Years of Crazy-toer wat van September tot Desember sal plaasvind.
Die hoogtepunt van die landwye toer is in Desember wanneer Ryno vier dae lank vir 1 500 studente by die ATKV-Studentejol en by Rampage, ’n 12-uurlange dansfees vroeg in November, musiek gaan maak.
- Vir meer inligting volg DJ Crazy op Facebook, Instagram, TikTok of op magicmomentssa.co.za.