‘n Tragiese voorval het die naweek in die Petsana-woonbuurt buite Reitz afgespeel toe twee jong kinders in ’n huisbrand omgekom het nadat hulle glo alleen tuis gelaat is.
Volgens die polisie het die kinders se ouers, onderskeidelik 23 en 25 jaar oud, op Saterdagaand 3 Mei omstreeks 22:45 besluit om ‘n plaaslike kuierplek te besoek. Die egpaar het hul twee kinders – ’n sewe maande oue baba en ’n een jaar en ses maande oue kleuter – alleen by die huis gelaat.
Inwoners in die buurt het kort daarna die ouers by die kuierplek gaan roep en hulle meegedeel dat hul huis aan die brand is. Owerhede is onmiddellik ontbied.
By hul aankoms op die toneel het polisielede die verwoestende ontdekking gemaak dat albei kinders in die brand omgekom het. Die liggame van die kinders was onherkenbaar verbrand.
Die oorsaak van die brand is nog onbekend en die polisie sê hulle doen ‘n deeglike ondersoek. ‘n Geregtelike doodsondersoek word gedoen.
‘n Saak van kinderverwaarlosing is teen die ouers geopen. Hulle sal na verwagting vandag in die Reitz-landdroshof verskyn.