Saterdag laatmiddag swerf ek ’n bietjie op sosialemediaplatforms rond en kom op ’n afskuwelike bekgeveg op Facebook af.
Nuuskierige ek begin lees, en my mond hang oop terwyl ek deur die kommentaar op ’n spesifieke plasing vorder.
Gewoonlik steur ek my nie veel aan mense wat hul persoonlike probleme uitbasuin en vuil wasgoed op die sosiale media was nie.
Hier het egter ’n hewige moddergooiery ontstaan waarin selfs ’n susterkoerant van VrystaatKroon deurloop.
Ek gaan lees die berig waarna daar in die moddergooiery verwys word en vind dit vreemd dat daar wel ’n geveg ontstaan het. Die feite was tog in orde.
Dalk is dit nodeloos om te sê dat die geveg oor kinders en hul prestasies gaan.
Die ma wat die plasing gedoen het, is oortuig sy is op die regte pad, so met haar troepe aan boord wat help klippe gooi.
Die ander ma is duidelik baie ergerlik, want hoe meer sy probeer verduidelik dat die inligting in die berig korrek is, hoe meer word sy deur die ondersteuners uitgekryt. Tot so ’n mate, dat sy hulle met regstappe moet dreig.
Dit laat die vraag by my opkom hoekom iemand so ’n “show” op Facebook opsit? Wat wil ’n persoon daarmee bereik deur mense indirek so te verneder en sleg te sê?
Ek glo die arme kinders sou hul koppe in skaamte laat sak as hulle dié storie sou lees.
Ek weet dit is belangrik om kinders in hul sport en ander belangstellings te ondersteun, maar ons moet seker maak dat dit is wat die kind gelukkig maak – dat ons nie die drome en ideale wat ons nie kon verwesenlik nie, op die kinders afdwing nie.
Ek hoop van harte dat die twee pragtige kinders sielsgelukkig in hul belangstellings is, om die gruwelike moddergooiery die moeite werd te maak.
Onthou om jou kinders in hul drome te ondersteun.