Was jy ook al op daardie plek, waar die meeste mense uitkom, dat dit voel of alles inmekaar val?
Alles breek, jou verhoudings is ongesond, jou bankrekening in die rooi en God voel ver. Alles ontspoor.
Jesus was daar. Een van sy vriende, Judas, het Hom verraai. Een van die binnekring, Petrus, het Hom verloën. Al sy volgelinge hardloop weg. Sy versoek aan vriende om saam met Hom te bid, val op dowe ore.
Wat doen Hy? Hy volg nie nou sy eie kop en maak benoude besluite nie. Nee. In Matteus 26:39 noem Hy sy situasie eerlik vir sy Vader. Hy gaan ’n entjie verder en kniel daar met die gesig teen die grond en bid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by my verbygaan.” Maar Hy doen dan iets wat die lewensdoel en groei in sy lewe na vore bring, en vra, “moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil”.
Nadat Jesus dit gebid het, kom versterk ’n engel Hom, want diegene wat God se wil doen, sal die lewe voluit kan leef.
Jesus staan met krag op en stap die soldate tegemoet om sy lewe te leef.
In Lukas 22:46 leer ons dat as ons dit onthou en só leef, die lewe ons sal vind: Hy sê toe vir hulle: “Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.”
Dit is sy wens vir ons sodat ons lewe altyd weer uitloop in nuwe groei.
Gebed
Jesus, ek bely: As ek kyk na my gebedslewe en buiging voor U wil, verstaan ek hoekom my lewe flenters raak. Amen.
- Els is leraar aan die NG kerk Kroonstad-Suid.