Kort voor Kersfees was ek bevoorreg om betrokke te wees by ’n straatkafee-uitreikgeleentheid wat aan haweloses en behoeftige gesinne ’n ete, kospakkies, klere en dienste soos ’n haarsny, pedikuur en manikuur gebied het.
Om ’n geleentheid soos so ’n gratis straatkafee te organiseer vra fyn beplanning. Natuurlik is daar bekommernisse oor of dit suksesvol sal wees – dat die doel bereik sal word om in almal se behoeftes te voorsien.
Boonop moet die organiseerders soveel onsekerheid aandurf, byvoorbeeld: Dalk daag niemand op nie, of dalk daag te veel mense op.
In die geval van dié straatkafee kan die organiseerders ’n klop op die skouer kry.
Oud en jonk het opgedaag vir ’n bietjie hoop en verligting – en dit wat hulle hier kon kry, het vele hartseer gesigte vir ’n wyle laat straal.
Dit was egter die stories van die mense wat my laat besef het dat ’n mens nie net fisieke behoeftes het nie, maar ook emosioneel uitgehonger kan wees.
Hulle kon hul stories deel, en weldoeners het opreg daarna geluister en vir hulle gebid.
Die meeste van die mense wat by die straatkafee ’n draai gemaak het, het voorheen ’n lewe soos ek en jy gelei, maar het toe deur die een of ander trauma in moeilike omstandighede beland.
Sommige is selfs hul werk, gesin of selfs breër familie kwyt.
Die lewe het hulle wreed gepootjie en hulle onverwags in krisis-omstandighede laat kom.
Dit laat ’n mens besef hoe belangrik dit is om elke dag met dankbaarheid te lewe, want dit wat ’n mens van môre verwag, is nie altyd die gegewe nie.
Mag ons in 2023 meer luister en dankbaar wees.
Mag ons só leef dat ons die lig vir dié op moedverloor se vlakte helder laat skyn.
Mag 2023 vir elkeen voorspoedig en geseënd wees.