Die noodsaaklikheid om basiese wiskunde en wetenskap te verstaan, is vanselfsprekend.
Maar in ’n wêreld waar kinders digitaal gebombardeer word met boodskappe dat hulle en die lewe wat hulle lei, nie goed genoeg is nie, is behoorlike beroepsvoorligting van vroegs af dalk belangriker as om aan te dring dat dié twee skoolvakke tot elke prys geneem word.
Op bykans enige platform op die sosiale media pryk beeldskone, glimlaggende mense in ’n skynbaar volmaakte lewe. Hierdie digitale indrukke kan enigeen minderwaardig laat voel.
Voeg daarby die las wanneer wiskunde en wetenskap op hoër vlak as die “regte dinge om te doen” aanbeveel word, en dit vir jou óf Grieks óf vervelig bly. Nie elkeen hoef, wil of kan ’n ingenieur of mediese spesialis word nie.
Volgens 2024 se nasionale lys van beroepe in hoë aanvraag, saamgestel deur die departement van hoër onderwys en opvoeding, bestaan talryke beroepe waarvoor hierdie vakke nie ’n voorvereiste is nie. Dié beroepe lewer ook ’n bydrae tot die ekonomie en ontwikkeling, en kan tot beroepsvervulling lei – benewens die potensiaal wat dit inhou om sukses daarin te behaal.
Met beroepsvoorligting van vroegs af is dit moontlik om die beste keuses te maak, sê dr. Mari Laas, opvoedkundige funksionele terapeut. Volgens ’n aanlyn artikel van Solidariteit help voorligting om ’n beroep te kies wat by jou belangstelling, vermoë en aanleg pas. Dit verhoog selfvertroue en dit bemagtig.
Dit is noodsaaklik om die spektrum van beroepsmoontlikhede vir jonges oop te maak en hulle van kleintyd af meer in voeling met hul vermoë, belangstelling en aanleg te bring.