Die “silly season” het vir seker aangebreek, want die vreemdste en mees bisarre stories is besig om kop uit te steek.
Twee moorde in een week in Ficksburg is skrikwekkend. Dan, natuurlik, gesinsgeweld, rooftogte, inbrake, dwelmmisbruik en enige misdaad waaraan ’n mens kan dink.
Desember is ’n tyd van afskakel en rustig word, maar dit is ook so dat boosdoeners hierdie tyd van die jaar die geleentheid sien om hul planne uit te voer.
So tussendeur die ontspan en lekker kuier saam met vriende en familie is dit belangrik om maar altyd ’n mens se oë en ore oop te hou.
Tuis, met vakansie of wanneer ’n mens selfs net gaan melk en brood koop, wees op die uitkyk; die boewe hou ons almal fyn dop om toe te slaan.
Ons besef dat die owerhede reeds hul hande vol het, maar met die samewerking van private sekuriteitsfirmas, gemeenskapspolisiëringsforums en organisasies soos AfriForum se buurtwagte is dit moontlik om die skurke vas te vat en hul bose planne hok te slaan.
Die Bethlehem-tak van AfriForum spog juis met ’n hommeltuig wat ’n termiese kamera het om skelms snags mee vas te trek.
Hou dus maar ’n wakende oog oor die nabye omgewing om so ook vir jou en jou geliefdes ’n baie rustiger feestyd te verseker.