Kerstyd se ware betekenis hou belofte

Oral in die media en sosiale media word die feestyd as die beste en wonderlikste tyd van die jaar beskryf.


Oral in die media en sosiale media word die feestyd as die beste en wonderlikste tyd van die jaar beskryf.

“It’s the most wonderful time of the year.”

Natuurlik vra ek myself toe af: Wat sou die rede wees?

Sien mense uit na ’n wel­verdiende vakansie, Kersgeskenke, of is dit net die feit dat daar ’n wegbreek van die normale gaan wees in die feestyd?

Dié tyd van die jaar, met die aanloop na Kersfees, is gelaai met plofbare gevoelens van frustrasie en oorwerk wees. Mense is ongeduldig en kwaai.

Die winkelsentrums is oorvol, met mense wat op ’n drafstap is; geld rol soos met dobbelmasjiene wat leegloop.

Trane loop van eensaamheid en verlange na kinders of familie.

Die negatiwiteit ruk my tot stilstand, en ek dink terug aan my kinderdae.

Ek sien myself, vyf jaar oud, kaalvoet met ’n popstootwaentjie en my gunsteling-pop, Emmetjie, wat ek in die waentjie rondkarwei.

Ek onthou die skuimbadbottel met ’n popkop op wat my ouma elke jaar vir ons gegee het. Met baie liefde onthou ek.

Nostalgies kan ek die heerlike Oros-koeldrank met ysblokkies wat ons gedrink het en koeksisters wat ons Kerstyd geëet het, proe.

Die verlange na ’n rustiger en eenvoudiger lewe.

Ons is deur advertensies gebreinspoel dat die meeste, blinkste en grootste deesdae die beste geskenke is. Tog kan dit nie die leemte in jou binneste vul nie.

Kerstyd gee ’n belofte van lewe in oorvloed. Leemtes kan net met die vrede en vreugde van Jesus gevul word. Kerstyd is vir ons die bevestiging dat Jesus vir ons ge­stuur is om ons van alle onge­regtigheid te reinig en van jou ’n Koningskind te maak.

Dit is ons grootste geskenk.

Neem dit en maak dit jou eie. Ervaar die kalmte en rus in Jesus, en leef in vrede en kom só tot ruste in jou gemoed.

Kom ons besin weer oor wat Kerstyd regtig moet beteken.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.