Die skaalmodel van die NG kerk Senekal word sedert 2015 in die Bethlehem-museum gehuisves. Wyle Neels Swanepoel van Bethlehem het dit in 1997 vervolmaak, tot in die fynste besonderhede.Foto: Verskaf


Indrukwekkende sandsteen­geboue word in bykans elke dorp in die Oos-Vrystaat aangetref en dié strukture is sinoniem met die streek en die sandsteenkultuur.

Die NG kerk in Senekal is een van talle historiese sandsteen­geboue in die omgewing en spog met ’n skaalmodel wat ’n lewensgetroue afbeelding van die oorspronklike kerkgebou is. Dit word in die Bethlehem-museum gehuisves.

Die skaalmodel wat tot in die fynste besonderhede soos die kerk in Senekal lyk, is deur wyle Neels Swanepoel, ’n Bethlehemiet wat in Senekal grootgeword het, geskep.

Die kerk het hom na aan die hart gelê, omdat sy ouma G.F. Nel in 1898 in die kerk getroud is en hy daar gedoop en aangeneem en voorgestel is.

In 1997 het hy besluit om saans ná werksure aan die skaalmodel van die kerk gestalte te gee. Hy het foto’s van die kerk geneem en bestudeer. Die model is binne vier maande voltooi.

Swanepoel het eers die raamwerk van karton aanmekaargesit sodat hy volgens die regte skaal kon werk.

Daarna het hy die struktuur van hardebord gemaak. Dit is bedek met steentjies uit sandsteen wat hy met sy knipmes uitgekerf het.

Die toilette is van lekkergoed­houertjies gemaak, en die kerkklok van ’n broerskind se skoenveter.

Die weerhaan en die windrigtingwyser het hy uit soldeerdraad, en die veiligheidshekke uit gewone draad, aanmekaargeslaan.

Die horlosie se plate is vir Swanepoel se projek deur Tanya Badenhorst met behulp van ’n rekenaar gedruk.

’n Gedeelte van die model se dak kan oopgemaak word om die preekstoel, aanwysingsbordjies, kerkbanke en kandelare te besigtig. Die skaalmodel het ook liggies wat aangeskakel kan word.

Die versteende stompe wat die muur om die model vorm, is verkry waar die oorspronklike stompe verkry is.

Pieter Olivier, ondervoorsitter van die Bethlehem-museum-trust, sê Swanepoel se vrou, Maritha, het hom as ’n geduldige mens beskryf. Hy het volgens haar ure daaraan toegewy om die fynste besonderhede van die kerk te vervolmaak.

Sy het die model in 2015 aan die Bethlehem-museum geskenk.

Belangstellendes word genooi om die skaalmodel in die Bethlehem-museum te besigtig.

You need to be Logged In to leave a comment.