Lede van die Bethseals-klub in Bethlehem het onlangs ’n afrigtingskliniek, aangebied deur die oud-Olimpiese swemmer en afrigter Simon Grey, bygewoon.
Grey het tegniek en vaardigheid help opskerp en boonop aan die sowat 30 swemmers wat dit bygewoon het, verduidelik watter invloed die regte dieet, oefening en tegniek op ’n swemloopbaan kan hê.
Hy het ook ’n motiveringspraatjie gelewer oor wat van ’n mens ’n kampioen maak en hoe om elke dag net jou beste te gee.
“Dit was vir al ons swemmers ’n wonderlike geleentheid, waar nie net hul tegnieke opgeskerp is nie, maar ook ’n groot bydrae tot hulle as swemmers en hul ontwikkeling in die sportsoort gemaak is,” sê Tina Nel, eienaar van die Bethseals-swemklub.
Dit afrigtingskliniek is op 11 en 12 November by die Hoërskool Voortrekker se swembad aangebied.
Grey is die hoofafrigter van die Super Seals-klub in Bloemfontein. Hy was ’n Olimpiese swemmer en het deur sy afrigting al vele Olimpiese swemmers opgelewer.
Nel sê dat hulle Grey beslis in die nabye toekoms weer sal nooi en dat die kliniek vir almal wat dit bygewoon het ’n ongelooflike ervaring was “wat hulle die res van hul lewe saam met hulle kan neem”.