Ken Hom in wat jy doen

Op die plaas waar ek grootgeword het, het my pa-hulle onder meer tamaties in die groentetuin geplant.


Op die plaas waar ek grootgeword het, het my pa-hulle onder meer tamaties in die groentetuin geplant.

Rondom die tamatieplantjies is stellasies opgerig sodat die plantjies opgelei kon word. Só het die tamaties in die lug gehang en groter geword as wat dit grondlangs sou groei.

Soms moet ons ons verstaan van groei laat vaar en die Groot Tuinier se paaie volg.

Daarom sê Spreuke 3:5-6: Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.

’n Mens kan dit in Saggeus, die tollenaar, se lewe sien.

Hy dink sy siening van Jesus vanuit die vyeboom is genoeg, maar in Lukas 19:5 sê Jesus vir hom: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.”

Hy wil Jesus sien, maar Jesus wil by hom tuis gaan.

Hy wil van bo af kyk, maar Jesus wil hom op sy vlak ontmoet. Toe Saggeus dit besef, doen hy die regte ding.

Hy klim haastig af en ontvang Jesus met blydskap. En sonder dat Jesus dit van hom vra, pas hy sy lewe by Jesus se lering aan deur terug te gee wat hy onregverdig ontvang het. So ontvang hy ’n beter lewe as wat hy self sou kies.

God wil ons lewe groter en mooier, vredevoller en voorspoediger maak.

Daarom moet ons dadelik van ons troontjie afklim, of uit ons gemaksone kom, en Hom met blydskap ontvang.

Dít is wanneer ons insien wat Hy wil; dat ons ware lewe ontvang.

Gebed

Here Jesus, vergewe my dat ek my manier van kyk so vasklem. Maak my oë vandag oop vir U pad en my ore vir U stem. Amen.

  • Els is leraar aan die NG kerk Kroonstad-Suid.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.