’n Sakevrou van Clarens is aan die begin van die maand as die nasionale padfietskampioen in haar afdeling gekroon.
Carla Oberholzer (37) het op 4 Februarie aan die nasionale kampioenskapsbyeenkoms in Gauteng deelgeneem en die 138 km-padwedren in 4 uur en 8 minute afgelê.
Dit is die tweede keer dat sy die titel wen. Die eerste keer was in 2018.
Sy skryf haar oorwinning toe aan pligsgetrouheid rakende haar oefenprogram en ondersteuning van haar afrigter, Devon Main, tans wat in Amerika woon; asook haar man, Stefan, wat haar aanspoor en bystaan. Trouens, as die ma van ’n 11 maande oue dogtertjie, Ariane, is sy baie dankbaar vir Stefan en hul wonderlike ondersteuningsnetwerk wat dit vir haar moontik maak om steeds haar passie as fietsryer uit te leef.
Oberholzer het in 2004 aan padfietsry begin deelneem, maar in 2008 ’n blaaskans geneem om haar studie te voltooi.
Sedert sy haar deelname in 2014 hervat het, spog sy met vele suksesse op haar kerfstok. Sy is onder meer vir die nasionale span gekies om aan die Olimpiese Spele van 2020 in Tokio deel te neem en het in 2021 vier goue medaljes op die Afrika- Kontinentale kampioenskapsbyeenkoms, in Kaïro, Egipte, verwerf.
Sy berei haar tans voor vir die Ride for Sight-geleentheid, wat einde Februarie in Gauteng gehou word, asook die Kaapstad-fietstoer, wat begin Maart plaasvind.