Om ’n liefde vir spinnekoppe te koester is baie ongewoon, veral onder vroue, maar as jy luister na hoe Landi Cordier (33) – ’n sivieleprosesklerk en makro-entoesias van Kroonstad – haar passie deel, sal jy ’n ander deuntjie sing.
Onlangs het sy verskillende wyfiespinnekoppe met hul sakke eiers afgeneem.
“Die foto’s is baie uniek en besonders omdat dit nie iets is wat ’n mens elke dag raakloop nie, veral die krapspinnekoppie wat binne ’n blaar haar eiers gelê het,” sê Landi.
“Hoewel dit ’n baie tydsame projek was om die verskillende wyfies op te spoor, is ek ongelooflik opgewonde dat ek hulle kon afneem. Spinnekoppe is gewoonlik nie lief daarvoor om in die oopte nes te maak nie, hulle soek ’n beskermde omgewing.”
Fotografie is Landi se stokperdjie, en hierdeur het sy besef daar is baie dinge, veral klein dingetjies, wat maklik misgekyk word.
Die eerste spinnekop wat sy afgeneem het, in 2013, is ’n wyfie-botterspinnekop, by haar werk in ’n jakobregop-plant opgemerk.
“Ek wou bitter graag die spinnekop van nader beskou en het daarom besluit om ’n foto te neem”.
Die spreekwoordelike gogga het haar gebyt, en sy het sedertdien al honderde spinnekoppe afgeneem.
“Ek weet die meeste mense gril, maar as jy die spinnekoppe bestudeer en begin navorsing doen, kan jy nie anders as om hulle te bewonder nie. Mense kan geweldig baie by spinnekoppe leer: Hulle is gedissiplineerd, presies, geduldig, netjies, intelligent en baie beskermend.”
Sy kon daarin slaag om die volgende wyfie-spinnekoppe met hul sak eiers af te neem: die wolfspinnekop, krapspinnekop, bruin knopiespinnekop en die langbeenspinnekop.
Landi sê die wolfspinnekop hou die eiersak met haar spinnerette vas totdat die eiers uitbroei, waarna die kleintjies dan ’n paar dae lank op haar agterlyf bly. Die gedrag is uniek aan die spesie.
“Die krapspinnekoppie kan soos ’n krap sywaarts beweeg. Dit is tussen 5 mm en 10 mm groot, en die wyfies hou wag oor hul eiers en sterf nadat die kleintjies uitgebroei het. Die bruin knopiespinnekop se gif is nie dodelik nie en hul kleur wissel van roomkleurig tot swart.
“Die langbeenspinnekop, wat aan ons almal bekend is, dra haar eiers in ’n fyn gespinde net wat sy aan groeisels aan albei kante van haar mond heg. ’n Wyfie kan in haar leeftyd tot drie sakke eiers maak, wat tussen 10 en 60 eiers kan bevat. Wanneer die kleintjies uitbroei, leef hulle in die web onder hul ma totdat hulle vervel, dan beweeg hulle weg.”
Haar gunsteling is die klein springspinnekop (Salticidae) omdat hulle vir haar die mooiste gesigsuitdrukkings het.
Sedert 2017 neem sy ook boudoir-foto’s. Dit het ’n nuwe dimensie aan haar geliefde stokperdjie gebring.
“Ons leef in ’n wêreld wat geweldige vereistes aan vroue stel, oor hoe hulle moet lyk en hoe hulle hulself moet voordoen. As gevolg hiervan voel baie dat hulle nie aan standaarde voldoen, of inpas by wat ‘mooi’ is nie.
“Dit is vir my belangrik dat elke vrou weet hulle is uniek en baie besonders.
“Boudoir is ’n self-ontdekkingsreis wat elke vrou aan haarself verskuldig is.”
- Landi nooi enigeen wat meer van spinnekoppe wil leer om haar Facebook-groep The Spider Club of Southern Africa te besoek.