Vermeende koperdiewe is op Oujaarsdag op die N1-snelweg naby Kroonstad vasgetrek.
Lede van Kroonstad se eenheid vir misdaadvoorkoming het op Vrydag 31 Desember omstreeks 06:00 ’n wit Toyota Hilux-bakkie opgemerk wat op die N1 noord van Kroonstad in die rigting van Johannesburg gery het.
Die bakkie het die polisievoertuig verbygesteek, waarna die bestuurder op ’n verdagte manier in die truspieël na die polisielede gekyk het. Die drie insittendes het ook verdag voorgekom.
Die polisie het onraad vermoed en die bakkie naby die weegbrug buite Kroonstad afgetrek. Die polisie het die voertuig deursoek en op die gesteelde koperkabels afgekom. Al vier verdagtes is in hegtenis geneem.
Die koperkabel van 654 kg, wat aan die spoorwegmaatskappy Transnet behoort, is glo in Bloemfontein gesteel en sou in Gauteng verkoop word.
Die bakkie behoort aan ’n motorverhuringsmaatskappy.
Shepard Mhlambi (31), Personal Mogovera (37), Trymore Sithole (24) en Solomon Sithole (20) is vir die besit van gesteelde goedere aangekla.
Hulle sou Dinsdag (11/01) in die landdroshof in Kroonstad verskyn om aansoek om borgtog te doen.