Wat jy gee, is wat jy ontvang.

Ons leer ons kinders om te deel. Hoekom?

Omdat ons weet dat onmededeelsame mense nie gelukkig is nie. Kinders wat inhalig en bakleierig is, wat ander nie iets gun nie en selfsugtig is, het nie maatjies nie en niemand hou van hulle nie.

Dieselfde is waar van volwassenes.

Daarom, in Lukas 6:31, is Jesus se boodskap om ander mense op dieselfde wyse te behandel soos jy self behandel wil word.

Hoe dikwels wens ons om met respek behandel te word?

Ons hoop mense behandel ons met genade, sagtheid, meegevoel, begrip en vrygewigheid.

Hoekom sal jy begeer dat mense jou hard en onvergewensgesind, onvriendelik en onnadenkend hanteer?

Niemand met gesonde verstand wil lelik behandel word nie.

Nou waarom lyk dit dan soms uit ons gedrag teenoor ander asof ons ongeskikte, onregverdige en onverklaarbare gedrag van hulle wil hê?

Soos met ons kinders, wil ons Vader ons die beste van ander laat ontvang. ’n Lewe van vrygewigheid bring vreugde.

Dan sien mense ons as Jesus se dissipels en ons ontvang respek vir ons optrede.

Ons word deur ons medewerkers, bure, klasmaats, vriende en familie geëer as goeie mense, en hulle soek ons teenwoordigheid en geselskap op.

Natuurlik is dit nie maklik nie, maar dit gee juis die deurslag in vreugdevolle verhoudings dat mense ons daarmee vertrou dat ons sal optree nie soos ons wil nie, maar soos wat goed is vir hulle.

Eindelik vind ons vreugde daarin dat ons lewe nie ’n struikeling vir die evangelie van Jesus is nie, maar eerder mense na Jesus toe aantrek omdat ons ’n goeie model daarvan is.

Hoe behandel mense jou? Goeie vraag, want dis waarskynlik hoe jy hulle behandel.

Dit bly waar: Wat jy gee, is wat jy ontvang.

  • Els is ’n leraar aan die NG kerk Kroonstad-Suid

You need to be Logged In to leave a comment.