Jonges se ryke verbeelding vlerke gegee

Die KinderArt-kunsuitstalling wat elke twee tot drie jaar deur Vinia Wheatley van Bethlehem en haar kunsstudente aangebied word, was weereens soos die uitstalling in 2021 ’n reusesukses.


Die KinderArt-kunsuitstalling wat elke twee tot drie jaar deur Vinia Wheatley van Bethlehem en haar kunsstudente aangebied word, was weereens soos die uitstalling in 2021 ’n reusesukses.

Op 15 November is 1 676 kunswerke van 103 kunsstudente by Orsmond Aviation by die lughawe buite Bethlehem uitgestal. Die kunswerke was ’n fees vir die oog en het besoekers in verwondering gehad.

“Die rooi en wit vliegtuigstoor by die lughawe komplimenteer die kunswerke mooi en skep die perfekte atmosfeer,” sê Wheatley.

Wheatley is ’n tekstiel-ontwerper van beroep en bied al die afgelope 17 jaar kunsklasse in Bethlehem aan.

Op die uitstalling is al die studente se kunswerke van die afgelope twee tot drie jaar vertoon, om erkenning aan elke student te gee vir hul harde werk.

Wheatley meen dit is vir kinders baie belangrik om erkenning te ontvang; dit bou ’n positiewe selfbeeld en laat hulle deel voel van iets groters in die lewe.

“Ek het al kunsgalerye oor die wêreld heen besoek, en nog net een keer in my lewe het ek 1 000 prente as uitstalling in geheel gesien.

“Dit was met ons vorige uitstalling in 2021.

“Dit is hoendervleismooi en ’n groot belewenis, en beteken vir die studente die wêreld.”

Dié wat die kunsuitstalling besoek het, kon vir hul gunsteling-kunswerke in vyf afdelings stem. Studente is ook die geleentheid gebied om die Orsmond Aviation-logo te skets, wat ’n groot verrassing vir almal was.

“Oorspronklik sou ons die wen-logo vir Orsmond skenk, maar nadat die eienaar die uitstalling besoek het en die logo’s gesien het, het hy gevra of hulle asseblief al die logo’s kan kry.”

Die algehele wenner van die Orsmond Aviation-logo-kompetisie het ’n gratis vlug oor Bethlehem saam met hul ouers gewen.

Op Maandag 18 November het Orsmond Aviation laat weet dat al vyf die wenners van die onderskeie afdelings ’n vlug sou kon meemaak.

Wenners

Die wenners is soos volg:


  • voorskool en gr. 1 (22 deelnemers) – Amelie Jacobs, ’n gr. R-leerling;

  • gr. 2 en gr. 3

    (26 deelnemers) – Franzelle van Zyl, ’n gr. 3-leerling;

  • gr. 4 (16 deelnemers) – Lea Windt;

  • gr. 5 en gr. 6 (18 deelnemers) – Ella Fick, ’n gr. 6-leerling. Ella is ook as die alghele wenner van die uitstalling aangewys;

  • gr. 7 tot gr. 12

    (16 deelnemers) – Yovanka Malan, ’n gr. 8-leerling, het dié kategorie gewen.

Die eerste KinderArt-uitstalling is in 2011 aangebied.

Wheatly sê sy is gebore met ’n passie om te skep en daarom is sy dankbaar om haar kreatiwiteit op dié wyse te kan uitleef.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.