Jong ster skitter éérs

Sommer al vroeg in die atletiekseisoen het ’n leerling aan Trio Primêr in Kroonstad verskeie rekords laat spat in die drie nommers waarin hy meeding.

Gerber Jonker op die atletiekveld.Foto:

Credit: SYSTEM

Sommer al vroeg in die atletiekseisoen het ’n leerling aan Trio Primêr in Kroonstad verskeie rekords laat spat in die drie nommers waarin hy meeding.

Die 12-jarige Gerber Jonker, ’n gr. 6-leerling, het op sy skool se atletiek­byeenkoms geskitter.

Hy het ’n rekord in diskusgooi opgestel deur die skyf 30,30 m ver te laat trek, asook rekords in spiesgooi (30,02 m) en gewigstoot (11,28 m).

Op die Vaalpark-atletiek­byeenkoms, wat op 28 Januarie in die DP de Villiers-stadion in Sasolburg plaasgevind het, het hy die diskusgooi-rekord van 33,08 m na 33,68 m verbeter.

Hy het boonop ’n goue medalje in gewigstoot, asook ’n silwer­medalje in spiesgooi, gekry.

Gerber is as die mees veelsydige seunsatleet, asook die beste senior seunsatleet, op die byeenkoms aangewys.

Op die satellietbyeenkoms op 31 Januarie het Gerber ’n persoonlike beste afstand van 35,73 m in diskusgooi gehaal, waarmee hy gekwalifiseer het vir die nasionale byeenkoms van 19 tot 21 Maart in Pietermaritzburg.

Gerber het hom verlede seisoen reeds onderskei.

Op die nasionale skole-atletiekbyeenkoms in 2022 het hy ’n goeie afstand van 13,07 m in gewigstoot gegooi.

Hy het as o.11-seun saam met die o.12-seuns aan spiesgooi deelge­neem en hierin op die Vrystaat-byeenkoms ’n eerste plek behaal.

Hy kon egter as o.11-atleet nie nasionaal deelneem nie.

Gerber oefen ses dae per week, tussen een en twee uur per dag, en word deur sy pa, Schalk, afgerig.

Hy speel ook rugby en hokkie vir sy skool.

Hy hou wedvlugduiwe aan as stokperdjie, en presteer boonop in dié sportsoort.

Hy is in 2020 in George as die nasionale organisasie vir wedvlugduiwe se junior kampioen aangewys, en in 2019, 2020, 2021 en 2022 het hy die titel as die Noord-Vrystaatse junior kampioen verower.

Gerber is die seun van Schalk en Zelda Jonker van Kroonstad.

Hy hou nou sy oog op die volgende groot byeenkoms waaraan hy gaan deelneem:

die Kroon-atletiekbyeenkoms op 16 Februarie.

You need to be Logged In to leave a comment.