’n Verdagte in die moordsaak van die 23-jarige Wesley Marais, wat koelbloedig in Kroonstad vermoor is, se saak word in die landdroshof in dié dorp aangehoor.
Dinsdag (25/10) tien dae nadat Marais van sy selfoon beroof, aangerand en vermoor is, sou ’n 30-jarige verdagte na verwagting in die hof verskyn.
Marais is op 15 Oktober in die vroeë oggendure, ná ’n aand uit, voor sy tuiste oorval en vermoor.
Hy het by vriende, Neels en Jean-Marie Cornelissen, in Thesenstraat gewoon.
Die Cornelissen’s het die oggend wakker geword van Marais se geskreeu by die hek, hom te hulp gesnel en hom met ’n meswond in sy nek gekry.
Hulle het die bloeding probeer stop en die owerhede ontbied, maar Marais het in sy jarelange vriend se arms beswyk.
Marais se familie en kennisse beskryf hom as opgeruimd. Nicolene Kotzé, Marais se ma, sê hy het graag in die gimnasium geoefen en was gaande oor potspel. Ook, mense sal hom onthou op sy fiets, waarmee hy die dorp vol gery het.
“Wesley was ’n groot aanwins vir ons groep en sal vir altyd in ons harte bly. Jou lag, geluk en moed sal onthou word,” het ’n inskrywing op Facebook van sy werkgewer, Khans Tyres, gelui.
Marais se begrafnis was Vrydag (21/10) om 11:00 in die NG kerk Kroonheuwel-Noord. Die diens is deur ds. Pieter Mohr van Niekerk gelei.
Marais word oorleef deur sy ma; stiefpa, Mac Kotzé; pa, Marius Marais; stiefma, Rina Marais; asook sy broers, Quintin Marais (20) en Christiaan Kotzé (7).
Minstens vyf mense is in September en Oktober vanjaar in afsonderlike rooftogte in Kroonstad dood. VrystaatKroon het vroeër berig dat dié mense ook in die vroeë oggendure deur bendes oorval is wat selfone en geld van hul slagoffers geëis het.