Jong lesers deel Kerslysies, vakansieplanne

VrystaatKroon het by sy jonger lesers gaan aanklop om uit te vind waarmee hulle hulself tydens die Desembervakansie gaan besig hou en wat hulle graag vir Kersfees wil hê.


VrystaatKroon het by sy jonger lesers gaan aanklop om uit te vind waarmee hulle hulself tydens die Desembervakansie gaan besig hou en wat hulle graag vir Kersfees wil hê.

Suné Hills (16) Foto: Verskaf

Lana Nel (10) Foto: Verskaf

Franco Nel (8) Foto: Verskaf

Alrich en Mine Zietsman Foto: Verskaf

Elizabeth van Staden (9) Foto: Verskaf

Suné Hills (16)

Dié leerling aan die Hoërskool Witteberg in Bethlehem gaan ’n week lank saam met haar familie in die Kruger-wildtuin vakansie hou. Daarna moet sy verspring en driespong oefen omdat sy van 22 tot 26 Desember aan die Open Athletics-kampioenskaps­byeenkoms in Namibië gaan deelneem.

Vir Kersfees wil sy graag die Lego Icons se Nasa Artemis Space Launch System hê.

“Ek was nog altyd gaande oor Lego, en ek beplan om ingenieurswese te studeer. Ek wil vliegtuie of ruimtetuie ontwerp. Dus dink ek dié Lego is die ideale geskenk.”

Lana Nel (10)

Hierdie meisie van Kroonstad en leerling aan Trio Primêr woon op ’n plaas buite Kroonstad. Lana beplan om in die Desember­vakansie lekker laat te slaap, die plaaslewe te geniet en te swem – ook om te waterski en te hengel saam met haar boetie, Franco.

Dan gaan sy Kersversierings maak en baie koeke bak. Sy hou baie van bak.

Lana wil graag ’n selfoon vir Kersfees hê.

Franco Nel (8)

Lana se boetie is ook ’n leerling aan Trio. Hy beplan om in die vakansie saam met sy pa op hul plaas te boer en baie motorfiets te ry.

Hy wil ook saam met sy gesin in die dam swem, hengel, waterski en met die binneband op die water ry.

Franco geniet dit om sy pa te help braai.

“Ek gaan baie lekkergoed eet en met my Lego speel.”

Hy wil graag “boerbootse” vir Kersfees hê.

Alrich Zietsman (11)

Dié leerling aan die Laerskool Truida Kestell in Bethlehem sê hy gaan die vakansie saam met sy pa op hul plaas boer. Andersins beplan hy ook om so ’n bietjie op sy sussie se senuwees te werk.

Hul gesin gaan in Kaapstad vakansie hou, en buiten om in die see te swem, hoop hy hulle kan ook gaan ysskaats en Tafelberg besoek.

Vir Kersfees wil hy graag ’n tjorrie hê sodat hy op sy eie op hul plaas kan rondry en lekker in die plaasdam kan gaan swem.

Miné Zietsman (10)

Hierdie meisie van Bethlehem is net soos haar broer ’n leerling aan die Laerskool Truida Kestell, en sy is baie opgewonde oor hul vakansie in Kaapstad – waar hulle ook Kersfees gaan vier.

Verder gaan sy televisie kyk en so min as moontlik doen; ook met haar Barbie-poppe speel.

“Ek wil graag ’n naaldwerkmasjien vir Kersfees hê, sodat ek vir myself en my Barbies kan klere maak wat bymekaar pas. Dan kan ons modeparades hou,” sê sy.

Elizabeth van Staden (9)

Dié leerling aan die Laerskool Truida Kestell in Bethlehem sien baie uit na die vakansie.

Sy gaan vir haar oupa en ouma in die Jakarandastad (Pretoria) kuier, en sy weet daar gaan hulle baie lekker kuier en swem.

Sy soek graag nuwe tekkies vir Kersfees, want haar tekkies is al “gebreklik” sê sy. Sy hoop ook om geld te kry omdat haar sakgeld nou klaar is.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.