Jong boere se toekoms skitter

Die Noord- en Oos-Vrystaat het twee van die drie topdeelnemers in Vrystaat Landbou (VL) se Jongboer van die jaar-kompetisie opgelewer.


Die Noord- en Oos-Vrystaat het twee van die drie topdeelnemers in Vrystaat Landbou (VL) se Jongboer van die jaar-kompetisie opgelewer.

Dié kompetisie word vanjaar ’n 27ste keer aangebied, en die vasberade en dinamiese jong boere wat mekaar die stryd aansê, is elkeen ’n aanwins vir die bedryf en in hul gemeenskap.

Hansie Müller (36) van Viljoens­kroon boer reeds die afgelope 18 jaar, waarvan sewe jaar op sy eie plaas.

Hy is passievol oor sy voerkraal en werk saam met sy vrou, Adrie, volgens hul persoonlike leuse: “Not the biggest, but the best.”

Müller is ook ’n saaiboer wat glo dat kinders elke aand ’n bord kos moet eet – om dié rede is hy by verskeie gemeenskapsprojekte betrokke. Hy is lid van die brandvereniging en landelikeveiligheidskomitee.

Jongboer van die Jaar

Hansie Müller (36), van Viljoenskroon, is een van die drie kandidate in die Vrystaat Landbou se Jongboer van die Jaar. Hier is Adrie en Hansie Müller.

Die jongste boer in die kompetisie is Lukas Lessing (26) van Marquard. Hy boer die afgelope tien jaar al en sê dit is sy roeping. Hy meen die benadering wat sy pa gevolg het deur hom van ’n jong ouderdom af by besluitneming te betrek en vryheid te gee, het ’n positiewe invloed op sy boerdery. Hy is die algemene bestuurder van die familie-trust. Hy bedryf hoofsaaklik ’n saaiboerdery (mielies, soja en sonneblom) en ’n kleiner veevertakking.

Lessing en sy vrou, Marné, is betrokke by hul kerk, asook die plaaslike aftreeoord. Hy huiwer nie om in te spring wanneer plaaspaaie geskraap moet word nie. Dit is ook vir hom belangrik dat sy werkers voordeel trek uit hul insette tot die boerdery, en dat hulle versorg is en hul werk geniet.

Die wenner in VL se Jongboer van die jaar-kompetisie sal op 18 April in Bloemfontein aangewys word, en dring outomaties deur tot Agri SA en Toyota SA se nasionale Jongboer van die jaar-kompetisie.

Hennie Geldenhuys (37), van Excelsior, is die derde topdeelnemer.

You need to be Logged In to leave a comment.