Joernalis sterf ná kankerstryd

Die bekende verslaggewer van Volksblad en Netwerk24 Alet van der Walt, wat hoofsaaklik nuus uit die Oos- en Noord-Vrystaat gelewer het, is aan kanker oorlede.

Alet van der Walt en haar seun, Walt van der Walt (27)Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Die bekende verslaggewer van Volksblad en Netwerk24 Alet van der Walt, wat hoofsaaklik nuus uit die Oos- en Noord-Vrystaat gelewer het, is aan kanker oorlede.

Die 54-jarige Van der Walt is op Maandag 26 Februarie net ná 13:00 by haar huis in Hennenman oorlede.

Sy het sowat ’n jaar gelede gesondheidsprobleme ondervind en is daarna met fase 4 limfoomkanker gediagnoseer.

Van der Walt het nog Sondagaand saam met familie en vriende tuis gekuier.

Maandag omstreeks 02:30 het sy in ’n koma gegaan. Sy was aan suurstof gekoppel en was rustig tydens haar heengaan.

Van der Walt is ongeveer tien jaar gelede as verslaggewer by Vista, susterkoerant van VrystaatKroon, in die Goudveld aangestel, waarna sy in 2016 by die Volksblad begin werk het. Sy was ’n spesialisjoernalis in landelike kwessies en plaasaanvalle en het die afgelope dekade oor tientalle plaasmoorde verslag gedoen. Sy was in November met ’n Vodacom-prys bekroon vir haar verslaggewing oor die Jagersfontein-mynramp.

Sy word deur haar enigste kind, Walt van der Walt (27), haar ma, Alet van der Walt (85), suster Beppie en haar swaer, Gert van der Merwe, en broers, Hoffmann en Petrus van der Walt, oorleef.

Geen begrafnisreëlings is nog getref nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.