Jaar propvol opwinding

Dit is met groot opgewondenheid dat ek kan sê: 2022 gaan ’n briljante jaar vir die Dihlabeng-gemeenskap wees.


Dit is met groot opgewondenheid dat ek kan sê: 2022 gaan ’n briljante jaar vir die Dihlabeng-gemeenskap wees.

’n Verskeidenheid planne, wat net tot ons gemeenskap se voordeel sal strek, is op die tafel.

Covid-19 is hopelik amper iets van die verlede, en daarom moet ons weer streef om die groeipunt van Suid-Afrika te wees.

Bethlehem was nog altyd as die lugballon-hoofstad in die land bekend, en dit is wonderlik dat onderhandelings reeds aan die gang is om die lugballonne weer in die winter na Bethlehem te bring.

Ons glo en vertrou dat die poging om dit te bewerkstellig suksesvol sal wees.

Dan spog Bethlehem met ’n atleet wat 21 keer agtereenvolgens die Comrades-marathon voltooi het, maar deesdae rolstoelgebonde is.

Gelukkig het die reëls rakende deelname aan die Comrades-marathon verander, en kan atlete in ’n rolstoel ook aan ’n “wedloop” deelneem.

Die atlete hoef darem nie die 90 km tussen Durban en Pietermaritzburg te voltooi nie, maar kry hul eie geleentheid en unieke afstand om af te lê.

Verder is groot belangstelling getoon rakende ’n moontlike gemeenskapsdag waarby verskeie belanghebbendes en bekendes betrokke sal wees.

Talle opwindende dinge in Clarens word ook vir die Paasnaweek beplan.

Met al dié en ander positiewe vooruitsigte vir 2022 kan ek nie help om oor die jaar opgewonde te wees nie.


Clem Harrington,

BETHLEHEM

You need to be Logged In to leave a comment.