Kroonstad ding as Vrystaatse finalis mee om die titel as Kwêla se Dorp van die jaar. Danksy ’n gemeenskap wat hande gevat het om daadwerklik ’n verskil in die onmiddellike omgewing te maak, kan dit heel moontlik bereik word.
Dié dorp, wat op die oewers van die Valsrivier lê, is ’n gerieflike pitstop op die N1-roete en was jare lank ’n aantreklikheid vir besoekers.
Te midde van sigbare herlewing hoop Kroonstad en sy mense om weer voete hierheen te trek.
Die lede van die Kroonstad-gemeenskap het ’n gesamentlike einddoel, en dit is om hul dorp nie net op alle terreine werkend te maak nie, maar ook ’n lus vir die oog wat boonop beleggers sal trek – in die hoop om ’n sterk ekonomie vir die dorp se mense te bou.
Die opruiming van die dorp was die gedagte van ’n paar sakemanne wat besef het die pad vorentoe is om moue op te rol en sodoende die wa deur die drif te trek. Die Ignite and Revive-gemeenskapsorganisasie, onder leiding van André van Pletzen, het hieruit ontstaan.
“Dit is ’n opdrag van die Here wat ons uitvoer, en dit spruit uit Spreuke 16:3 – Laat jou werke aan die Here oor, dan sal jou planne uitgevoer word. Ons kan dit nie sonder ons Hemelse Vader doen nie, alle eer aan hom,” sê van Pletzen.
Lede van die organisasie het op klein skaal begin voordat hulle met gemeenskapslede, die plaaslike munisipaliteit en verskeie sakeondernemings hande gevat het om eindelik ’n gemeenskaplike einddoel te bereik.
Die trefkrag van die verskil wat hulle reeds gemaak het, het ’n rimpeleffek – en verskeie dorpe uit ander provinsies het by die dinamiese groep kom kers opsteek.
Idees en gedagtes word gedeel in die hoop om landswyd ’n positiewe invloed te bewerkstellig. Inwoners streef na ’n gemeenskap wat soos ’n goed geoliede masjien werk.
Dit is ook hoe besluit is om die voormalige Afrikaanse Hoërskool Kroonstad (Rooiskool) en die Hoërskool Kroonstad (Blouskool) te laat saamsmelt na wat nou as die Hoërskool Trio bekend staan.
Die gemeenskap het besef dat die verandering nodig is om ’n sterk dubbelmediumskool in Kroonstad te vestig om die beste opvoeding vir kinders van die dorp en omgewing te bied.
Die Hoërskool Trio bied 26 akademiese, landbou- en tegniese vakke aan.
“Verandering is nooit lekker nie, maar ons weet almal dit is nodig om ’n blinker toekoms te verseker,” sê Hendré Kachelhoffer, hoof van die Hoërskool Trio.
’n Nuwe, bekostigbare private Engelse skool is ook gestig.
Wat opknapping en opruiming in die dorp betref, kon sakeondernemings verkeerseilande en -sirkels aanneem om te verfraai en instand te hou. Slaggate is herstel, en randstene en lamppale is geverf.
Gras word gesny en rommel word gereeld tydens opruimingsbedrywighede verwyder.
Die plaaslike munisipaliteit het Kroonpark begin opknap en die warmwaterswembad is herstel. Die oord is weer ’n lus vir die oog en groot dinge soos ’n karavaansaamtrek word beplan.
Die Môrewag-swembad is danksy die hulp van ’n plaaslike sakeonderneming, CC Chickens, Trio en die munisipaliteit opgeknap. Skole kan dus weer na hartelus swemgalas aanbied en professionele swemmers kan plaaslik oefen.
Groot projekte soos kunstefeeste, ’n jaarlikse dinee vir sakelui en die opknappingsbedrywighede by Kroonpark om toerisme te bevorder is voorkeursake vir die gemeenskap.
Besoek die Facebook-blad Ignite & Revive Kroonstad of gaan na igniteandrevive.co.za om die organisasie se werksaamhede te volg