Terwyl die uitvloei vanuit die Bloemhofdam in Noordwes stelselmatig verhoog word, het inwoners van die laerliggende dele teen die Vaalrivier, in die Bloemhof-omgewing, reeds woon- en gastehuise ontruim.
Die uitvloei sou na verwagting teen Dinsdag 8 April om 18:00 na 3 000 kubieke meter per sekonde verhoog word, nadat dit om 16:00 na 2 700 kubieke meter per sekonde verhoog is.
Maandag is talle woon- en gastehuise in die Bloemhof-gebied, wat in die laerliggende dele teen die Vaalrivier geleë is, ontruim. Van die toegangsroetes na dié dele was toe reeds oorstroom, asook van die strukture.
Inwoners van dié dele het reeds verlede week verwag dat hulle binne enkele dae sou moes ontruim, ‘n gebeurtenis wat die meeste al voorheen gedoen het.
Die Departement van Water en Sanitasie (DWS) het Sondagoggend aangekondig dat ‘n vyfde sluis van die Vaaldam oopgemaak is. In daardie stadium was die Vaaldam 109% vol nadat dit oornag gestyg het weens die aanhoudende reën in die Vaalrivier se opvangsgebied.
Teen Dinsdagoggend was die Bloemhofdam 115% vol.
Heinrich Kleyn, ‘n inwoner van Bloemhof en eienaar van die River View Resort, sê hulle het Maandag reeds die oord ontruim. Volgens hom is dit moeilik om te voorspel hoe lank die hoë watervlak sal duur.
Kleyn het verskeie foto’s en ‘n video gedeel wat Maandag by die oord geneem is: